HYGEND hert, kyk nou net hoe laat dié knape die kwik styg . . .

Dis nou twaalf van jou sexyste Afrikaanse sangers wat die klere laat waai vir ons musiektydskrif Tempo se heel eerste manne-kalender. Maar wie gee nou eintlik om of dit April of Oktober is as jy jou kan vergaap aan Jay met net ’n paar verbande om sy lyf gedraai, ’n dansende Izak Davel kaal-bolyf in sy klopdansskoene, die nimlike Bobby van Jaarsveld se spier-pensie wat onder ’n kraakwit hemp uitloer en ’n smeulende Emo in ’n papnat geskeurde T-hemp?

Oe lala! En een van die manne was inderdaad sonder ’n draad klere voor die kameras . . .

Ons mooimaak-mense het ’n volle ses dae lank geswoeg om alles seepglad te laat verloop vir ons land se heel eerste Afrikaanse manskalender. En dit was toe alles die moeite werd – mooi was mos nog nooit lelik nie.

Die gedagte was om ’n bietjie meer te wys van . . . nou ja, elke ou se unieke karakter. Is ja, Jack Parow het dan nie eens nodig gehad om van sy klere ontslae te raak nie!

Dit was inderdaad hope pret, maar geen maklike storie nie, sê Betina Louw, koördineerder van dié vuurwarm fotosessie.

In die begin het dit maar mooipraat gekos om die manne en hul agente te oortuig dat hemde en in sommige gevalle selfs broeke moet waai. “Hulle het eers gedink dis soos manstydskrif-kaal, maar ons het almal verseker die skote sal smaakvol gedoen word en op die ou end het alles mooi uitgewerk.”

Jay, Izak Davel en Willem Botha was van die braafste sangers wat eerste ingestem het om hul lywe proefkonyn te hou.

“Ons het elke kunstenaar op drie verskillende maniere afgeneem om iets van elkeen se persoonlikheid te weerspieël, en ons nog meer gekry as wat ons verwag het.

“Izak dans byvoorbeeld lankal nie meer professioneel nie weens ’n besering, maar hy het sy dansskoene spesiaal gaan afstof, en dit selfs ook op die rug van ’n perd gewaag. Almal het uit hul pad gegaan.”

Jay was inderdaad sonder ’n draad klere daar op die motorfiets.

“Hy is baie gemaklik met sy lyf en glad nie vol fiemies nie. Net die fotograaf en assistent was daar toe hy op die ysterperd klim en al die ander mense het die ateljee verlaat.”

Bobby van Jaarsveld het wel vreeslik gebloos, vertel Betina, al het die man ’n praglyf waaroor al wat Eva is kwyl, en hul plan om hom tussen die lakens af te neem soos vir sy Spieëltjie-DVD het toe gesneuwel voor sy skugterheid.

Maar die gedagte was allermins om ’n tipiese kaal-kalender te maak, sê Wicus Pretorius, redakteur van Tempo. Die idee vir die kalender was sy geesteskind.

Die kunstenaars kon uiteindelik ook sê watter foto’s hulle self van hou.

“Ons produksiemense het baie moeite gedoen en van perde en bokshandskoene tot honde en dobbeltafels laat aflewer vir die fotosessie.” Die rooi bokshandskoene waarmee Jay op een kiekie spog, is toe spesiaal uit die Kaap gevlieg Johannesburg toe, nes Bobby se baadjie uit die Middeleeue.

En die kunstenaars het ook heerlik saamgespeel. “Emo het gou ingestem om sy eie T-hemp te skeur – gelukkig het hy ’n hele paar ander wittes byderhand gehad. Arno Jordaan het nog die oggend ’n basviool by sy ouerhuis gaan haal.”

Jack Parow is saam met ’n Franse bulhond afgeneem, een wat in Rusland gekoop is en deesdae in Suid-Afrika woon. Dié woef was toe amper koeler as Jack en het soos ’n ou vriend sommer in sy arms bly sit.

“Soos Betina dit voorheen raakvat opgesom het: die kalender is ’n viering van vorm en musiek,” sê Wicus.  “Dis hoekom ons ook lirieke onderaan die foto’s byvoeg. Dit gaan nie oor seks nie, wel oor die kunstenaar en sy musiek.

“Dis die heel eerste keer dat Afrikaanse sangers in hierdie konteks en met soveel sorg afgeneem word en jy kry jou kalender gratis as jy die nuwe Tempo koop.”

Toe nou, watter Eva wil nie ’n mooi man of twaalf in haar Kerskous ontdek nie . . .

* Kuier saam met Pasella by ons fotosessie op 1 Desember om 19:30, en kry sommer jou Tempo nou, hy’s landwyd op die rakke. Daar is ook ’n gratis DVD met musiekvideo’s beskikbaar.