’n Inbraak by die ateljee van Vonk Musiek in Boksburg het die Afrikaanse sangeres Irene-Louise van Wyk in sak en as gelaat nadat die enigste opnames van haar nuwe musiekvideo gesteel is.

irene-louise2

Irene-Louise, die dogter van wyle Irene van Wyk, vertel inbrekers het Vrydagoggend vroeg deur die ateljee se dak toegang verkry. “Hulle het letterlik alles gesteel,” sê sy.

Buiten al die rekenaars, musiektoerusting en instrumente wat gesteel is, het die diewe ook by ’n kluis ingebreek en al die hardeskywe geneem waarop rugsteun-kopieë van haar video geberg was. “Ons was so te sê klaar,” sê Irene-Louise. “Ek sou die Vrydag ateljee toe gaan om die laaste bietjie redigeerwerk saam met die redigeerder te doen. “Ek sou dit Maandag op my Facebook-blad uitreik.”

Hulle het alles gesteel, tot die rugsteun-kopieë.

Die sangeres vertel hoe goed alles saamgeval het toe sy eindelik die musiekvideo vir haar nuwe enkelsnit, Wie Is Die Vrou In Jou Arms Vanaand, vroeër vandeesmaand in Bela-Bela geskiet het.

“Dit was ’n warm dag; die dansers het hard geoefen. Die verfilming het baie goed verloop.”

Nou is sy alles kwyt. Al wat sy oor het is 'n paar foto's wat agter die skerms geneem is wat sy op sosiale media gedeel het.

“Ek is oorbluf. Ek weet nie of ons die video weer gaan skiet nie. Alles is nog ’n bietjie deurmekaar by Vonk terwyl hulle met die polisie en die versekering werk.”

Buiten Irene-Louise se musiekvideo het ander kunstenaars ook van hul musiek verloor wat hulle besig was om op te neem. Die omvang van die skade is nog nie bepaal nie.

Hoewel sy teleurgesteld is, het Irene-Louise reeds die kopskuif gemaak om aan te gaan. “Sulke goed gebeur; daar is niks wat ons daaraan kan doen nie. Daar is geen waarborge in die lewe nie.”

Petrus Malherbe