Een mens is gewond tydens ’n rooftog by ’n juwelierswinkel by The Grove-winkelsentrum in die ooste van Pretoria. Verskeie skote is geskiet; minstens een van die vyf vermeende rowers is blykbaar gewond en is later dood.

Liezl Ferreira, die sanger Joe F se vrou, was gister in dié sentrum. Sy was op pad uit toe sy skote hoor. “Ek kan daardie vrees en die mense wat so om my hardloop, nie beskryf nie,” vertel sy.

“Die ironie is dat ek met trollie en al gehol het. Die veiligheidswag het gegil dat ons terug moet hardloop na die sentrum en daar moes skuil. Al die winkels het dadelik hul deure gesluit. Iemand by ’n skoenwinkel het darem oopgemaak en my ingelaat.

“Ons het eers 20 minute lank weggekruip. Toe ons wou uitstap, het die mense steeds oor en weer geskiet. Dit het gevoel hulle skiet hier langs ons,” vertel Liezl, wat steeds geskok is deur die voorval.

“Ek het Joe per SMS laat weet wat aangaan en hy het laat weet die polisie is op pad. Eers ná nog 40 minute kon ons uitkom, toe ons hoor die polisie het opgedaag.

“Joe is baie bly ek is veilig, maar hy het amper kop verloor.

“Ons het later gehoor die klomp het met AK47’s geskiet. Ons hoor ook een van die verdagtes is aan sy wonde dood. Sy lyk is glo in Soweto gevind.

“ ’n Paar mans wou ’n juwelierswinkel beroof en toe skiet die eienaar terug, nadat hulle op hom begin skiet het. Hy het hulle agternagesit. Almal het wild geskiet en daar is karre beskadig.

“Dis ’n vrees wat ek nie kan beskryf nie.”

– Haidee Muller