Robbie Williams se babadogter, Theodora (Teddy) Rose, het op hom opgebring toe hy vir haar sy emosionele nuwe liedjie sing.

Die bekende Britse sanger het die liedjie Go Gentle spesiaal vir sy ses maande oue dogter geskryf, maar sy was klaarblyklik nie beïndruk nie.

“Dit was so ’n mooi oomblik toe ek met haar op ons landgoed gaan stap het en toe sing ek vir haar hierdie opregte liedjie . . . en toe gooi sy op my op,” het Robbie aan The Daily Mirror gesê.

“Ek weet nie of daai net babataal is vir: ‘Dis fantasties, Pa’, of ‘Jy maak my naar’ nie.

“Ek hoop maar dis eersgenoemde.”