Die sanger Chris Brown het nog nie sy eksmeisie se beskermingsbevel ten opsigte van gesinsgeweld in ontvangs geneem nie.

[caption id="attachment_161811" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

’n Regter het verlede maand aan die televisiepersoonlikheid en model Karrueche Tran permanente regsbeskerming teen Chris toegeken. Sy het dokumente by die hof ingedien waarin sy hom daarvan beskuldig dat hy gedreig het om haar dood te maak nadat hul vier jaar lange verhouding beëindig is.

Volgens die New York Daily News het Chris egter nog nie die dokumente formeel in ontvangs geneem nie, want hy fnuik gedurig haar regspan se pogings om dit aan hom te lewer.

Chris se prokureur het Woensdag buite ’n hof in Santa Monica, Kalifornië, aan Karrueche se prokureurs gesê die sanger van Run It het sy regsfirma beveel om nie die regsdokument in ontvangs te neem nie.

Dit veroorsaak natuurlik ’n oponthoud in die verrigtings. Aangesien Chris nog nie die bevel amptelik in ontvangs geneem het nie, moes ’n verhoor, wat Woensdag sou plaasvind, uitgestel word tot 19 April vanjaar.

Karrueche se prokureurs het aan die nuusblad gesê hulle het verskeie kere vergeefs probeer om die dokumente af te lewer, selfs met die hulp van wetstoepassing. Die model se prokureurs het ’n privaat firma gehuur om die sanger op te spoor en die dokumente persoonlik aan hom te oorhandig.

“Mej. Tran wil graag hierdie kwessie op die vinnigste moontlike manier opgelos kry,” sê Patrick Blood, die model se prokureur.

Hoewel Chris nog nie die permanente bevel in ontvangs geneem het nie, word hy steeds gebind deur ’n voormalige tydelike beperkingsbevel om weg te bly van Karrueche en haar vriend, Joseph Ryan La Cour. Joseph het ook vrese vir sy lewe in die hof uitgespreek nadat hy blykbaar deur die sanger gedreig is.

Karrueche en Chris het hul verhouding in 2015 beëindig nadat sy uitgevind het hy is die pa is van ’n dogtertjie, Royalty, wat tydens ’n geheime romanse by die model Nia Guzman verwek is.

© Cover Media