Sandra Bullock “loop niks mis” deur enkellopend te wees nie.

Die ster van Gravity is nog nie in die openbaar gesien saam met ’n nuwe liefde sedert sy en haar eks, Jesse James, in 2010 uitmekaar is nie. Sy sê sy is tevrede daarmee om ’n ma te wees vir haar driejarige seun, Louis.

Sy het gesê: “As ek ’n verhouding aanknoop, goed. Maar ek voel nog nie ek loop enigiets mis nie. Miskien sal ek eendag. Maar my seun is drie jaar oud, wat ’n wonderlike ouderdom is. Vier is selfs ’n beter ouderdom. So, as iets gebeur, goed. Maar indien nie, het ek baie om te doen.”

Die 49-jarige aktrise se lewe is vol vreugde sedert sy Louis in 2010 aangeneem het. Tog het sy ’n taamlike bittersoet siening van die wêreld op grond van haar vorige ervarings.

Sy sê in die jongste uitgawe van Entertainment Weekly: “Die lewe is ’n reeks rampspoedige oomblikke. Tussen daardie oomblikke; dis wanneer jy dit geniet, geniet, geniet.”

Sandra, ’n enkelma, het die afgelope maand vertel sy wil graag nog kinders hê, maar net as haar seun dit goedkeur.

Sy het gesê: “As daar skielik agt kinders in my huis is, as dit goed is met Louis, en dit voel soos ’n goeie, veilige gesin, sal dit my pas. Dit sal so moet wees, want dis waarvoor my huis gemaak is. Dit hang van hom af. Hy is die baas van die huis, en ek moet sy reëls gehoorsaam.”