.

Die 51-jarige aktrise se lewe is deesdae standvastig en sy bring die meeste van haar tyd saam met haar aangenome seun, Louis, en volgens gerugte, die dogter wat sy onlangs aangeneem het, deur.

Dinge was egter anders gedurende haar grootwordjare, en die Oscar-wenner laat die feit deurskemer dat mense geskok sou wees as hulle sou uitvind wat sy alles aangevang het.

“Wel, ek het ’n paar dom dinge aangevang op kollege,” het sy aan die Amerikaanse tydskrif Glamour gesê. “Dat ek nie in die tronk beland het nie: wonderwerk. Wonderwerk! Ek is só dankbaar daaroor. Maar, jy weet, dit voel nie asof ek volwassenheid bereik het voor ongeveer vyf jaar gelede nie.”

Dit was teen ongeveer daardie tyd dat Sandra se beroepslewe ontplof het, net soos haar persoonlike lewe ingeplof het. Sy het die Oscar as beste aktrise in 2010 gewen vir haar rol in The Blind Side, maar kort daarna het sy en haar man, Jesse James, se paaie geskei nadat hy erken het hy was verskeie kere ontrou. Hulle was besig om Louis aan te neem, en Sandra het toe die aanneming alleen behartig.

Hoewel sy nie daarna verwys nie, lyk dit asof daardie tyd in haar lewe ’n baie groot invloed uitgeoefen het op die manier waarop sy nou lewe.

“Ek het alles gehoor,” het sy vertel. “En ek moes terugtree en weggaan. Louis is my grootste geskenk, en ek gaan vir hom die ma wees wat ek wil hê hy moet ken. ’n Kind dwing jou om jou storie agtermekaar te kry. Dit is die beste manier.

“Ek het letterlik gedink ek weet wie ek is. Nie heeltemal nie. Maar al die stukke van die legkaart het twee jaar gelede in plek geval. Ek het gedink: ‘Dis die een van wie ek hou; dis wie ek is’.”

Sy het aan Glamour vertel van haar geweldige liefde vir haar seuntjie en erken hy is een van die redes waarom sy die bemoeisiek pers so moeilik vind. Sy verstaan die belangstelling in haar, maar belowe sy sal “gek” raak as enigiemand naby haar seuntjie sou probeer kom.

Sandra het ook oor haar skooldae gesels. Sy was rasieleier en het nog die uniform wat sy gedra het – en dit lyk asof haar kêrel, Bryan Randall, getrakteer kan word.

“Ek voel verleë, ja (ek het dit nog),” het sy gelag. “Dit kan dalk op die een of ander erotiese/sensuele aand nuttig te pas kom.

“Ek weet nie vir wie ek dit bêre nie. Ek wil daarin begrawe word.”

© Cover Media