’n Boek, twee flieks en selfs ’n gewese eerste minister het idees daaroor, van die CIA wat mense se aandag wil aflei tot die vliegtuig wat per ongeluk neergeskiet is.

’n Aantal wilde teorieë, insluitend ’n Taliban-kaping of ’n meteoriet wat die vliegtuig getref het, het opgeduik namate mense die vrae probeer antwoord wat die verdwyning van die vliegtuig op 8 Maart met 230 mense aan boord gelaat het.

Gissings het afgeneem nadat Maleisië laat Maart gesê het die vliegtuig het weens onbekende redes vermoedelik in die suide van die Indiese Oseaan neergestort. Maar bespiegeling het nou weer opgevlam nadat die internasionale soektog vrugteloos was. In ’n blog-inskrywing Sondag het die gewese Maleisiese premier Mahathir Mohamad hom geskaar agter gerugte dat die Boeing 777 afstandbeheer gehad het. Mahathir (88), wat steeds groot invloed het, het gesê die CIA het dalk beheer van die vliegtuig oorgeneem nadat dit deur terroriste gekommandeer is. Hy het bygevoeg dit is moontlik dat die vliegtuig “êrens is, dalk sonder die merkteken van die lugredery.

'Iemand steek iets weg. Dit is onregverdig dat Malaysia Airlines en Maleisië die skuld kry.'

“Kan dit nie wees dat die vlieënier beheer oor die vliegtuig verloor het nadat iemand die toerusting geaktiveer het wat die afstandbeheer in werking stel nie?” het hy geskryf.

“Iemand steek iets weg. Dit is onregverdig dat Malaysia Airlines en Maleisië die skuld kry. Om die een of ander rede publiseer die media niks wat Boeing of die CIA betrek nie,” reken Mahathir, wat bekend is vir sy anti-Westerse retoriek.

Soortgelyke aantygings is voorheen deur ’n koerant gepubliseer wat deur Maleisië se regerende party beheer word.

Die party het deurgeloop omdat hulle blykbaar foute gemaak het en die krisis te geheimsinnig hanteer het.

Die voorstelling van Amerikaanse betrokkenheid is destyds deur die Amerikaanse ambassade in Maleisië ontken.

Fliek-voorstelle

Twee flieks oor MH370 is Sondag by die Cannes-filmfees in Frankryk aan moontlike verspreiders voorgelê.

Die lokprent van een, The Vanishing Act, wys vreesbevange passasiers en ’n vuurwapen. Die fliek is voorgehou as die “onvermelde storie van ’n vermiste Maleisiese vliegtuig”.

Een van die boeke oor die vliegtuig het Maandag op die rakke verskyn en wil te kenne gee dat die vliegtuig tydens ’n militêre oefening in die Suid-Chinese See neergeskiet en die storie agterna geheim gehou is. Die Londense skrywer Nigel Cawthorne het gesê daar was in daardie tyd ’n gesamentlike militêre oefening deur Thailand en Amerika, wat oefeninge met lewendige ammunisie ingesluit het. “Gestel ’n deelnemer het die vliegtuig per ongeluk neergeskiet; sulke dinge gebeur. In 1988 in die Persiese Golf het die USS Vincennes die Iran Air vlug 655 neergeskiet,” het hy geskryf.

'Niemand wil nog ’n Lockerbie hê nie.'

“Niemand wil nog ’n Lockerbie hê nie; die betrokkenes het dus genoeg rede om stil te bly daaroor,” het hy bygevoeg.

Nigel verwys na die Pan Am vlug 108, wat in 1988 oor Lockerbie, Skotland, ontplof het.

’n Libiese intelligensiebeampte is van die bomaanval skuldig bevind.

Die Singapoer-gebaseerde lugvaartontleder Terence Fan sê sonder bewyse “kan jy niks uitsluit nie, maar dit is hoogs onwaarskynlik”.

Die Maleisiese regering het gesê satellietdata toon die vliegtuig het moontlik van sy roete afgewyk en in die Indiese Oseaan neergestort nadat sy brandstof opgeraak het.

Tog is daar niks gevind ná ’n weke lange soektog op die oppervlak en seebodem nie. Maleisië het gesê hulle gaan die satellietdata hersien, die soektog weer assesseer en dalk nog onderwater soektogte loods.

Hulle het geen bevindinge bekendgemaak van die verskeie ondersoeke na die rede agter die vliegtuig se verdwyning nie.

Nóg teorieë

’n Meningsopname van CNN toon dat die meeste Maleisiërs vermoed die regering, wat berug is vir korrupsie, steek iets weg, terwyl een uit 10 Amerikaners glo ruimtewesens, tydreisigers of wesens van ’n ander dimensie is betrokke.

Leidende teorieë wat ondersoek word, sluit in ’n moontlike kaping, sabotasie deur die vlieënier of ’n meganiese fout.

Die vlieënier Zaharie Ahmad Shah (53) het onder kritiek deurgeloop ná onbevestigde berigte dat hy ontsteld was dat die Maleisiese opposisieleier, Anwar Ibrahim, kort voor die vlug ’n vonnis opgelê is. Daar word ook gegis dat hy weens persoonlike probleme selfdoodneigings gehad het.

Maar sy swaer Asaud Khan het Maandag in ’n onderhoud met die Australian Broadcasting Corporation ontken dat Anwar enige emosionele probleme gehad het, en het gesê hy word as sondebok gebruik.

- Shannon Teoh/Sapa