“Jou seun is in die moeilikheid. Doen navraag as enigiets met my gebeur.”

Daar was geen rede waarom Vanessa Bates nie kon dink haar seun, Max Spiers, is enigiets behalwe paranoïes nie toe hy hierdie vreemde boodskap in Julie vanjaar aan haar stuur.

Die 39-jarige Max was immers ’n kenner op die gebied van samesweringsteorieë en op pad na Pole waar hy ’n praatjie moes lewer oor hierdie teorieë en VVV’s.

Maar enkele dae na hy hierdie spookagtige selfoonboodskap aan sy ma gestuur het, is sy liggaam in dié Oos-Europese land op ’n rusbank gevind, berig The Mirror .

Daar is bepaal dat hy aan natuurlike oorsake dood is, hoewel daar glo geen nadoodse ondersoek uitgevoer is nie.

Nou is sy 63-jarige ma vasbeslote om aan haar seun se laaste versoek te voldoen.

[caption id="attachment_141306" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Volgens Vanessa het sy navorsing oor VVV’s en “regeringstoesmeerdery” daartoe gelei dat hy "hope" vyande gehad het, veral ná hy onlangs begin ondersoek instel het na die lewens van welbekende politici, sake- en vermaaklikheidspersoonlikhede.

Vanessa, 'n Engelse onderwyseres, sê: "Ek dink Max het in donker plekke gegrawe en ek is bevrees iemand wou hom dood hê.”

Volgens MailOnline, het Max met die wetenskapfiksieskryer Monika Duval saamgewerk en ook by haar in Pole gebly.

"Max was baie fiks en in goeie gesondheid, en tog het hy skynbaar net skielik op ’n rusbank gesterf.”

"Al wat ek het, is ’n sterftesertifikaat van die Poolse owerhede wat sê dat hy aan natuurlike oorsake dood is, maar daar is geen nadoodse ondersoek gedoen nie, so hoe kan hulle dit sê?”

"Hulle weier boonop om enige papierwerk uit te reik aangesien ek nie sy skriftelike toestemming het nie – iets wat tog belaglik is.”

[caption id="attachment_141307" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Max se internet-aanhangers stem klaarblyklik saam, want hulle eis dat besonderhede oor dié pa van twee se dood beskikbaar gestel word.

"Hierdie jong man is in Pole vermoor,” het een van Max se volgelinge op sy blad geskryf. “Hy het glo swart bloed opgegooi. Hulle het by hom uitgekom!”

"Ek hoop nie hy gaan verdwyn sonder ’n ondersoek nie … alhoewel ons reeds weet wat die uitslag daarvan is.”

Kerry Cassidy, ’n Project Camelot-blogger beweer op haar beurt: "Die dokter wat Max ondersoek het, sowel as die polisie wat na die villa toe gekom het, het die liggaam agtergelaat ten spyte van die feit dat hulle geglo het Max is dood.”

"Watter soort amptenare doen dit? Al die omstandighede is verdag en ek vra almal om Monica aan te moedig om die besonderhede oor wat werklik gebeur het, aan die groot klok te hang en aan te dring op ’n nadoodse ondersoek.

Nog ’n samesweringsteoritikus van HPANWO Voice het bygevoeg: “Selfs die hoofstroommedia het hierdie storie opgetel met een van hul kenmerklike tong-in-die-kies-uitlatings. Die term “samesweringsbewonderaars” dui daarop dat hulle nie in objektiwiteit belangstel nie.”

Bronne: Mirror.co.uk, MailOnline, Metro.co.uk