Die regering hoop belasting op suikerdrankies sal help om Suid-Afrikaners gesonder te maak, volgens welstandkenners.

Suiker kry die skuld vir vetsug en ’n verhoogde risiko vir leefstylsiektes soos tipe-2-diabetes, hartsiektes en beroerte. Hierdie kwale plaas ’n swaar las op die land se gesondheidstelsel.

Die suikerbedryf sal nou met die regering skakel oor planne om suikerbelasting op versoete drankies te hef, het die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV) aan Health24 gesê.

Lees ook: Maak sout dalk jou kind vet?

Die voorgestelde belasting, wat op 1 April 2017 in werking tree, sal gehef word op drankies soos koeldrank, vrugtesap, sport/energiedrankies, vitamienwater, versoete ystee, limonade, vrugtestroop en kwas wat met suiker versoet is.

“Die Suid-Afrikaanse suikerbedryf bevorder ’n gesonde, gebalanseerde leefstyl en steun die stryd teen vetsug,” sê Trix Trikam, uitvoerende direkteur van die SASV.

’n Onlangse ondersoek deur die Universiteit van Washington het getoon 70 persent van Suid-Afrikaanse vrou en 40 persent van Suid-Afrikaanse mans is oorgewig of vetsugtig.

Die Hospitaalvereninging van Suid-Afrika verwelkom ook die instelling van suikerbelasting.

Bevorder gesondheidsbewustheid

“Ons glo dat afgesien van broodnodige inkomste aan die Nasionale Tesourie te bied, die maatreëls baie sal help om te sorg dat Suid-Afrikaners hul leefstyl heroorweeg en meer gesondheidsbewus word. Dit verdien al ons steun,” sê die liggaam.

Mark Arnold, hoofbeampte van die mediese fonds Resolution Health, meen ook ’n belasting op suikerdrankies kan help om Suid-Afrika ’n gesonder land te maak.

“Met toenemende kommer oor die koers van vetsug in Suid-Afrika, en met vele verwante nieaansteeklike leefstylsiektes wat toeneem, is die idee van ’n belasting op suikerdrankies ’n welkome ontwikkeling.”

Lees ook: Suiker verjaag Klaas Vakie

Mark het opgemerk suikerdrankies bevat hope kilojoules en moet matig en as deel van ’n gebalanseerde en gesonde leefstyl geniet word. “Die gereelde gebruik daarvan vererger net die probleem van vetsug.”

Dr. Jacques Snyman, direkteur van produkontwikkeling by Agility Global Health Systems for Africa, het verduidelik hoekom dit ongesond is om gereeld suikerdrankies te drink.

“Dit is baie maklik om ’n spul suiker in ’n drankie baie vinnig af te sluk, amper sonder om te besef dit verteenwoordig ’n groot gedeelte van jou aanbevole daaglikse kilojoule-inname.”

Hy sê dit is belangrik dat die publiek meer bewus word van dit wat hulle drink en ingeligte besluite neem gegrond op dié inligting.

Die gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi, se woordvoerder, Joe Maila, het aan Health24 gesê suikerbelasting is een van die maatreëls wat die departement kan help in hul strewe om die las op die land van nieaansteeklike siektes te verminder.

Bron: Health24

Lees ook op Huisgenoot.com:

Ontmoet Gimo, die internet se grootste (en oulikste!) katsensasie sedert Grumpy Cat!

Het jy al gewonder waar ritssluiters vandaan kom?

Jammer, Catherine, die kroon van mooiste koninklike is nie meer joune nie