Prins Philip sal dit glo nie goedkeur as prins Andrew en Sarah Ferguson weer trou nie.

Die hertog van Edinburgh hou nie van sy seun se eks nie – veral nie nadat Sarah die koningshuis in 1992 in die skande gesteek het toe sy betrap is waar sy haar finansiële adviseur se tone suig nie. Sy en Andrew was in daardie stadium reeds vervreem.

In 2010 het sy boonop ’n joernalis toegang tot Andrew belowe as hy haar ’n halfmiljoen pond betaal. Vriende sê as Andrew (53) en Sarah (53) weer trou, sal dit eers ná sy 92-jarige pa se dood wees.

’n Vriend het aan die Daily Mail gesê: “Ons weet hy sal dit afkeur as hulle weer trou; daarom sê ons almal dit sal eers wees nadat hy weggeval het. Andrew sal nie sy pa wil ontstel nie, en ek dink ook nie hy sal toegelaat word om dit te doen nie.”

Sarah en Andrew het ná hul egskeiding in 1996 op goeie voet gebly en deel ’n huis by die Royal Lodge. Hulle gaan ook dikwels saam met hul dogters, prinses Beatrice (25) en prinses Eugenie (23), met vakansie.

Die hertogin van York het sedert 2010 ’n lae profiel gehandhaaf, en dit lyk of sy weer besig is om haar voet in die deur van die koningshuis te kry. Die koningin het haar vroeër vandeesmaand na die Skotse koninklike landgoed Balmoral genooi – die eerste dergelike uitnodiging sedert 1992. Philip was toe nie daar nie.

Personeel wat tydens Beatrice se onlangse 25ste verjaardagpartytjie by die Royal Lodge in Windsor Great Park gewerk het, het ook ’n nuwe aantrekkingskrag tussen die hertog en hertogin gewaar.

Een bron het gesê: “Dit was opmerklik. Hulle het hulle meer soos ’n ou getroude paartjie as soos ’n ou geskeide paartjie gedra. Dit was verrassend. Daar is baie geskerts dat hulle maar net sowel weer kan trou.”