En jou broer meen sy seun is ‘n rugby-wonder juis omdat hy in ’n goeie seunskool is waar sportprestasies aangemoedig word.

Ander sê weer gemengdegeslagskole is die beste opsie, want dit berei kinders voor vir die samelewing ná skool waar hulle met lede van die teenoorgestelde geslag moet saamwerk.

Kenners gee toe dis ‘n moeilike besluit. “Ek dink nie daar is 'n regte of verkeerde antwoord nie. Soos met die meeste dinge in die lewe is daar voor- en nadele,” sê Cristine Scolari, ’n kliniese sielkundige van Bedfordview, Johannesburg.

Party kinders floreer in enkelgeslagskole, terwyl ander weer beter presteer in gemengdeskole, meen Tony Reeler, hoof van die Hoër Seunskool Pretoria.

Navorsing steun nie die siening dat kinders beter presteer in enkelgeslag-staatskole  nie, sê Melissa Bothma, ’n Kaapse opvoedkundige sielkundige. “Uitgebreide navorsing wys enkelgeslagskole bied nie enige sosiale of opvoedkundige voordele bo gemengdegeslagskole in die staatskolestelsel nie.’’

Die eienskappe van individuele skole moet ook in ag geneem word, beklemtoon Anel Annandale, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad.  “As jou kind ongelukkig is in ? gemengde skool, beteken dit nie jy moet hom na ? enkelgeslagskool stuur nie. Dalk is die spesifieke skool die probleem.”

Voor jy besluit, hou die volgende voor- en nadele in gedagte:

Voordele van enkelgeslagskole:

  • “Seun en meisies ontwikkel teen verskillende tempo’s en dit kan frustrerend wees as almal gelyke behandeling ontvang,” sê Cristine. Enkelgeslagskole maak voorsiening vir die emosionele, fisieke en intellektuele verskille tussen seuns en meisies.  “Tussen gr. 7 en 10 ontwikkel meisies gewoonlik vinniger as seuns,’’ beaam Anel. “In meisieskole kan onderwysers die skoolwerk teen ? vinniger pas aanbied.”
  • Leerders in enkelgeslagskole ervaar minder groepdruk van die teenoorgestelde geslag, sê Deon Scheepers, skoolhoof van die seunskool Grey Kollege in Bloemfontein. “Seuns en meisies kan in 'n veilige omgewing ontwikkel waar daar nie druk van die teenoorgestelde geslag is om iemand te wees of in iemand te ontwikkel wat daardie mens nie is nie.”
  • Enkelgeslagskole, veral seunskole, fokus gewoonlik meer op sport. “’n Sportiewe kind ontwikkel meer selfvertroue as hy die geleentheid kry om op die sportveld uit te blink, maar  in ? gemengde skool waar daar nie veel aandag aan sport gegee word nie, kan sy selfbeeld ? knou kry, veral as hy nie akademies ingestel is nie,” verduidelik Anel.
  • Ondersteuners van enkelgeslagskole glo kinders presteer beter in dié skole, “veral meisies wat akademies ingestel is”, sê Anel. Meisies in enkelgeslagskole is meer geneig is om “manlike” vakke soos wiskunde, biologie en skeinat te neem, sê sy. Tony  ondervind op sy beurt leerders in seunskole neem gereeld aan meer “’vroulike’’ aktiwiteite deel soos koorsang, drama en kuns.
  • Op hoërskool kan tieners se aandag maklik deur die teenoorgestelde geslag afgetrek word, sê Cristine. “Hulle fokus dan nie op skoolwerk nie, maar eerder op sosiale en verhoudingsake.”

Hul nadele:

  • Seuns en meisies leer nie met mekaar  sosialiseer nie, sê Cristine. Dis veral problematies as die kind buite skool ook nie met kinders van die teenoorgestelde geslag meng nie. “Hierdie kinders voel baie ongemaklik en skaam in die teenoorgestelde geslag se teenwoordigheid.’’
  • Dis makliker vir seuns en meisies om ware vriendskappe te smee in ’n gemengde skool waar hulle mekaar amper elke dag sien. “Ondersteunende verhoudings met die teenoorgestelde geslag kan tot 'n gesonde selfbeeld bydra,” sê Cristine.
  • “Katterigheid kan erger wees in meisieskole,” waarsku Anel.
  • Soms stuur ouers hul kinders na enkelgeslagskole  ver van die huis waar hulle in die week in die koshuis bly. “As hulle dan naweke huis toe gaan, word hulle dikwels die geleentheid ontneem om met hul skoolvriende te sosialiseer,” sê Anel.

Voor jy besluit:

Doen deeglik navorsing oor die skool waarheen jy jou kind wil stuur, sê Tony. “Besoek die skool saam met jou kind. Dit sal vir jou ? beter idee gee van die soort plek wat dit is en of jou kind daar sal inpas. Kyk ook of  die skool se waardes ooreenstem met dié van jou gesin.”

Kinders moet saam met hul ouers besluit na watter hoërskool hulle moet gaan, sê Anel.

“Jy is dalk mal oor ? spesifieke skool, maar jy moet jou kind se belange ook in ag neem. Ek sal aanbeveel dat julle saam skole besoek. Party skole laat selfs toe dat kinders vir ? week daar klas loop om te kyk of hulle daar sal inpas.’’