7de Laan-kykers kan Maandagaand oudergewoonte voor die kassie inskuif om die lief en leed van Hillsiders te volg.

Rosa-Mari Erasmus, publisiteitbeampte van 7de Laan, sê daar is weer ’n kontrak in plek en geen sprake dat die sepie gaan eindig nie. “Ons is baie bly om te sê dat 7de Laan wel uitgesaai gaan word. Ons wou nie ons kykers teleurstel nie.”

’n Afvaardiging van die SAUK, wat Hlaudi Motsoeneng (deesdae die uitvoerende hoof van korporatiewe sake) insluit, het Maandag 7de Laan vir ’n vergadering besoek. Dit is vertroulik wat presies in die vergadering bespreek is, maar Rosa-Mari het bevestig alles het positief verloop.

Die produksiehuis het ook die afgelope twee en ’n half maande se episodes wat reeds vervaardig is, aan die SAUK verskaf.

Kykers, akteurs en produksielede van die sepie het Donderdag paniekerig geraak toe die produksiehuis ’n brief uitgestuur het wat meld dat 7de Laan se werknemers dalk nie betaal gaan word omdat die produksiehuis nie sonder ’n getekende kontrak geld van die SAUK kan kry nie.

Terwyl die kontrak nie geteken was nie het die produksiehuis ook nie episodes, wat reeds vervaardig is, aan die SAUK verskaf nie. Voor die kontrak afgehandel was het die produksiehuis net genoeg episodes aan die SAUK verskaf vir die sepie om tot verlede Vrydag te rol en daar was kommer dat 7de Laan-kykers nie van Maandag af oudergewoonte voor die kassie sou kon inskuif om die lief en leed van Hillside en sy inwoners te volg nie.