Dit gons behoorlik op die internet nadat Mikaela Kellner en haar vriende tydens hul rustige sonbruinsessie in Ralambshovsparken, Stockholm, deur ’n skyn-tydskrifverkoper genader is. Maar die skelm het niks verkoop nie; inteendeel, hy’t “sonder toestemming inkopies gedoen” en met een van haar vriende se selfoon verdwyn. Min het hy geweet dat Mikaela eintlik die afgelope 11 jaar reeds ’n gedugte lid van die plaaslike polisiemag is. En dat sy nie haar uniform nodig het om skelms koud te sit nie. So het sy, met net haar bikini aan, die vent agternagesit en hom kort voor lank met ’n plettervat aarde toe gebring.

Mikaela bestempel dit as haar eerste “bikini-inhegtenisneming” in 11 jaar, maar dis duidelik dat sy dit geniet het. “Ek het bloot instinktief gereageer tot waar ons hom vasgepen het. Toe ek na my ander vriende kyk, het ek besef dit moes moontlik baie snaaks gelyk het,” het sy op haar Instagram-rekening geskryf. “Maar ek sou opgetree het, ongeag watter uitrusting ek sou aangehad het.” Die kans is goed dat die sakkeroller volgende keer twee keer gaan dink voor hy ’n skrapsgeklede vrou probeer besteel.

Bronne: independent.co.za, eveningtimes.co.uk