Kaapstad – Die kanaal het ook toegegee hy het nagelaat om kykers behoorlik te waarsku.

7de
SABC2 se verskoning kom nadat die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) bevind het 7de Laan, wat deur Danie Odendaal Produksies vervaardig word, en SABC2 het die uitsaaiers se gedragskode oortree – hierdie keer met ’n gyselaarsdrama wat vroeër vanjaar gewys is.
'Gesinskyktyd, wanneer groot getalle kinders deel van die gehoor is, is nie die geskikte tyd om kwessies te beklemtoon soos gyselaarsdramas waar die besering en dood van onskuldige mense voorkom nie.'

Nadat kykers gekla het, het die UKKSA vroeër vandeesmaand SABC2 en die oorwegend Afrikaanse weekdagsepie op die kanaal se oordeel gekritiseer en bevind die gewelddadige gyselaarsdrama wat in Oppiekoffie, die koffierestaurant in 7de Laan, uitgebeeld is, was nie geskik vir die tydgleuf nie en SABC2 en die sepie het nagelaat om kykers behoorlik te waarsku.

Die UKKSA sê die inhoud was “te eksplisiet” vir die 18:30-tydgleuf, en ook dat 7de Laan op SABC2 “grafiese en eksplisiete tonele” gewys het van “herhaaldelike, veelvuldige gevalle van die rig van vuurwapens op ’n dreigende manier”, beledigings en onwelkome suggesties van ’n seksuele aard, ’n gyselaar wat kwaai bloei, die getraumatiseerde ma van ’n huilende baba wat deur ’n aanvaller gevat is en ’n karakter wat ’n hartaanval kry.

“Gesinskyktyd, wanneer groot getalle kinders deel van die gehoor is, is nie die geskikte tyd om kwessies te beklemtoon soos gyselaarsdramas waar die besering en dood van onskuldige mense voorkom nie,” het die UKKSA beslis. “In die lig van die openbare klagtes ná die uitsaai van die 7de Laan-gyselaarsdramatonele op SABC2 in Februarie vra die SABC kykers wat moontlik deur dié tonele ontstig is nederig verskoning,” het SABC2 gesê.

SABC2: Ons het nie voldoende waarskuwings gegee nie

Hulle het bygevoeg: “Ons erken ons het ons kykers nie voldoende gewaarsku oor die gewelddadige tonele nie. Ons verseker verder ons kykers dat 7de Laan gesinswaardes weerspieël en geskikte kykstof vir gesinne sal bly.”

Die UKKSA het 7de Laan en SABC2 opdrag gegee om ’n lang verklaring te beeldsend, asook ’n meegaande stemboodskap wat kykers inlig 7de Laan en die kanaal het ’n fout begaan deur sonder voldoende waarskuwing tydens ’n onvanpaste tydgleuf eksplisiete geweld uit te saai.

Dis die tweede keer dat 7de Laan oor te eksplisiete geweld aangespreek is. In Junie 2012 het die UKKSA bevind SABC2 en 7de Laan het die perke oorskry met ’n te eksplisiete uitbeelding van ’n selfdoodpoging en die gebeure wat uitgebeeld is was te grafies vir die tydgleuf. SABC2 en 7de Laan is toe tereggewys en die uitsaaier is gewaarsku om nog versigtiger te wees met materiaal wat tydens gesinstyd gebeeldsend word.

Thinus Ferreira

Channel24