SAUK ontken gerugte oor Afrikaanse programme op SABC2

Dit volg ná talle mediaberigte en “eksklusiewe” onthullings op Channel24 deur die Kaapse joernalis Thinus Ferreira dat programme soos die aktualiteitsprogram Fokus, die natuurbewaringsprogram 50/50 en alle Afrikaanse dramas voortaan op SABC3 uitgesaai sal word.

Dit sou luidens dié berigte die eerste keer in 38 jaar wees dat daar geen Afrikaanse drama op SABC2 (voorheen bekend as TV1) uitgesaai sal word nie.

“Thinus Ferreira se artikel is verdag en lyk vir die SABC asof dit verwarring en tot ’n mate ook ras- en taalverdelings probeer saai,” sê Kaizer Kganyago, die SABC se woordvoerder.

Kganyago verduidelik in die mediaverklaring dat die SABC sy rooster moes aanpas as gevolg van die Sokkerwêreldbekertoernooi. Volgens hom het die uitsaaier al op 29 Mei die roosterveranderinge aangekondig.

“Die nuusbulletins in Tsonga, Swati, Ndebele en Venda is ook (weens die Sokkerwêreldbekertoernooi) geskuif, maar Ferreira noem dit nie in sy artikel nie.” Hy voeg by dat die SABC1-sepie Generations ook tydelik na SABC2 geskuif is.

“Ons glo dat alle Suid-Afrikaners ewe belangrik is. Mnr. Ferreira se kommentaar dat Nuus om 7 ’n ‘struikelblok’ vir SABC2 is, is onnodig en onvanpas.”

Kganyago het nie in die mediaverklaring bevestig dat die rooster na normaal gaan terugkeer wanneer die Sokkerwêreldbekertoernooi op 13 Julie eindig nie.

Ferreira het glo op sy blog en op Channel24 gegis die Afrikaanse nuusbulletin gaan weer môre (27 Junie) om 19:30 terug op SABC3 wees, en dat alle Afrikaanse programme, behalwe 7de Laan en Noot vir Noot, van September af permanent van SABC2 na SABC3 gaan skuif.

– Christiaan Boonzaier/Sapa