Marietjie, wat na bewering haar stiefdogter, Mundolene (17), Oktober verlede jaar in ’n luukse oord in Mauritius noodlottig aangerand het, is sedert die voorval agter tralies. 

Insp. Shiva Coothen, polisiewoordvoerder in Mauritius se hoofstad, Port Louis, het telefonies aan Huisgenoot bevestig die 34-jarige Marietjie het weer Woensdag hier voorgekom, maar die saak is nogeens uitgestel, dié keer tot 20 Julie.

Eers dan sal ’n verhoordatum bepaal word, asook of die saak in die plaaslike laerhof verhoor sal word en of dit na die hooggeregshof oorgeplaas sal word, het Shiva gesê. 

Shiva het bevestig die ondersoek teen Marietjie is afgehandel en sy het regshulp deur die staat bekom. Die verhoor is vroeër tot 5 Julie uitgestel sodat die verdediging en die staat met hul betoë kon lewer.

Hy het weer benadruk Marietjie is borgtog geweier aangesien sy nie ’n vaste adres op die eiland het nie. “Sy het ook nie geld nie,” het hy gesê.

Huisgenoot het in Desember berig die aanklag van moord teen Marietjie is laat vaar en verander na die mindere klag van aanranding sonder die doel om moord te pleeg. Hy het toe bevestig Marietjie sal steeds weens Mundolene se dood verhoor word en tronkstraf as vonnis is nie uitgesluit nie. 

Marietjie het saam met haar man, Mike Vosloo (46), hul seun (11), Mundolene en haar broer (15) vakansie gehou. Mundolene en haar broer is Mike se kinders uit sy vorige huwelik. 

Die treurspel het op 6 Oktober afgespeel, ’n dag nadat hulle vir hul eilandvakansie by die luukse Hotel Riu Creole in Mauritius aangekom het. Marietjie en Mundolene het egter glo die dag langs die swembad stry gekry. 

Toe Marietjie en Mundolene van daar na hul hotelkamer stap, het die stryery vererger en Marietjie het Mundolene glo hard met die vuis in die gesig bygedam. 

Mundolene was so ontstoke tydens die slag dat sy ’n beroerte gehad het. Die aartjies wat in haar kop gebars het, het tot bloeding op die brein gelei. 

Sy is kort daarna op die toneel dood verklaar en Marietjie is aangekeer.