Vandag presies 84 jaar gelede, op 27 Januarie 1932, het Suid-Afrikaanse vroue vir die heel eerste keer in ’n verkiesing gestem. Dit was tydens ’n tussenverkiesing in die Johannesburgse kiesafdeling Von Brandis, maar net wit vroue is toe dié reg gegun.

[caption id="attachment_116055" align="alignnone" width="600"]Die Volksraad van 1950. Foto: Wikipedia Die Volksraad van 1950. Foto: Wikipedia[/caption]

Die eerste vrou wat tot die Volksraad verkies is, was Leila Reitz in 1933 se algemene verkiesing in Parktown, ook in Johannesburg.

Leila was ’n kampvegter vir vroueregte binne sowel as buite die Volksraad. Dié dogter van Claude Wright, ’n dokter van Wynberg, is in 1887 gebore en het ná skool ’n B.A.-graad in geskiedenis behaal.

Tydens haar politieke loopbaan het sy wetgewing ondersteun wat daarop gemik was om egskeidings vir vroue makliker te maak. Hierdie veranderings aan die Grondwet is eindelik in die Wet op Huweliksaangeleenthede van 1953 bekragtig.

Lees ook: Nuwe platjie op Afrikaanse grappiehorison

Universiteitsopleiding vir vroue was ook vir haar belangrik. Sy het gedurig gewys op die voordele wat universiteitsopleiding vir vroue inhou, veral vroue verbonde aan verpligte vredestydse welsynsdienste wat permanente poste in die staatsdiens wou bekom.

Sy is in 1920 getroud met kol. Deneys Reitz, ’n seun van oudpres. F.W. Reitz van die Vrystaat. Dis die einste Deneys Reitz wat die gelyknamige Johannesburgse regsfirma begin het.

Aanvanklik het Leila haar man in sy politieke loopbaan gesteun tot sy later in eie reg as uitvoerende lid van die vroueafdeling van die Suid-Afrikaanse Party sowel as deel van die nasionale hoofkomitee gedien het.

Haar ander belangstellings as Volksraadslid het ook ingesluit die kwessie van jeugmisdaad en die probleme waarmee armblankes geworstel het.

Lees ook: Wag, jy kan wát gaan studeer?

Vandag is net meer as 40 persent van die Nasionale Vergadering vroue, wat wys Suid-Afrika het ’n lang pad gestap sedert die dae toe Leila vroualleen aan die voorpunt van die geskiedenis gestaan het.

[caption id="attachment_116056" align="alignnone" width="590"]Helen Suzman. Foto: Barnard Center for Research on Women en Wikipedia Helen Suzman. Foto: Barnard Center for Research on Women en Wikipedia[/caption]

Jare later sou ons ook die bekende Helen Suzman hê, wat as eensame stem teen apartheid in die Suid-Afrikaans Volksraad ses jaar lank die enigste vrou in die huis was.

Bronne: Afrikaanse Wikipedia; Morné van Rooyen