Die Sunday Times berig dat ’n vrou van Sandhurst, wat glo ’n bottel water tydens ’n vlug na ’n vlugkelner gegooi het, krimineel aangekla word in Kanada.

Nomantangwa Babhekile Johansson, 30, die vrou van Lars-Eric Johansson, hoof- uitvoerende beampte van Ivanhoe Mines, was op 17 Desember op ’n vlug van Air Canada tussen Londen en Toronto, toe die voorval plaasgevind het.

Die vliegtuig is na die Halifax Stanfield- internasionale lughawe herlei en sy is op die lughawe gearresteer. Sy het ’n nag onder polisiebewaking deurgebring voordat sy in die hof verskyn het vir ’n aansoek om borgtog.

Greg Church, woordvoerder van die Kanadese Berede Polisie, het gesê Johnsson is vrygelaat nadat sy borgtog van ongeveer R100 000 betaal het.

"Sy moet elke Vrydag telefonies aan die lughawe-afdeling van die polisie rapporteer en sy moet in Kanada bly totdat die hof oor die saak beslis het,“ het hy gesê.

Volgens verslae van die Kanadese media, is daar ses aanklagte teen Johansson, insluitend aanranding met ’n wapen en rusverstoring.

Sy het haar paspoort ingehandig en bly by familie in Ontario.

Johansson moet op 22 Januarie in die hof verskyn.

- Sapa