’n Suid-Afrikaanse vrou wat aangekla word van die moord op haar drie gestremde kinders gaan na ’n veilige hospitaal oorgeplaas word vir onmiddellike behandeling vir geestesgesondheidsprobleme, het ’n hof Dinsdag gehoor.

Tania Clarence (42) het sag gehuil toe sy per satelliet uit die tronk verskyn. Sy word aangehou weens die beweerde moord op haar driejarige tweelingseuns, Ben en Max, en haar dogter Olivia (4).

Die kinders is waarskynlik versmoor, het aanklaers tydens ’n verhoor in Londen gesê. Nog toetse word wel uitgevoer.

Al drie die kinders het aan tipe 2 spinale spieratrofie gely, ’n genetiese toestand wat veroorsaak dat die lyer min beheer oor sy bewegings het. Dit verkort hul lewensverwagting aansienlik.

Tania is in hegtenis geneem nadat die drie lykies op 22 April gekry is in die gesin se huis in die suidwestelike voorstad van Londen New Malden.

Kragtens Brittanje se Wet op Geestesgesondheid gaan sy nou na ’n veilige hospitaal oorgeplaas word. Dit kom nadat regter Brian Barker gesê het hy het getuienis aangehoor wat daarop dui sy moet dringend behandel word.

Tania se man, die beleggingsbankier Gary Clarence (43), het die verhoor uit die openbare galery gevolg.

Ten tyde van die kinders se dood was hy in Suid-Afrika, die paartjie se geboorteland, met hul oudste dogter, Taya.

Aanklaer Zoe Johnson het gesê nadoodse ondersoeke op die lyke dui daarop “die voorlopige oorsaak van hul dood is versmoring”.

Sy het bygevoeg: “Of dit gepaardgegaan het met die een of ander vorm van bedwelming, moet nog vasgestel word.”

- Sapa