Kaapstad – Die Statebondspele van 2022 gaan in Durban plaasvind ná ’n eenparige stemming Woensdag deur die Statebondspelefederasie (SSF) in Auckland, Nieu-Seeland.

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), Gideon Sam, het gesê: “Ek staan vandag voor julle as ’n uiters trotse Suid-Afrikaner. Ons is gereed om die Statebondspele in 2022 vir die heel eerste keer op Afrika-bodem aan te bied, in Durban, Suid-Afrika.

“Die wesenlike uitgangspunt van ons voorlegging was dat die Spele ’n geleentheid sal bied om ons sosiaal-maatskaplike ontwikkeling te bespoedig, veral die ontwikkeling en inspirasie van ons jong mense, nie net in Suid-Afrika nie, maar elders in die Statebond.”

Gideon het die SSF vir hul opbouende insette en positiewe terugvoer bedank en weer bevestig Durban is besonder geskik en gereed om die grootste Statebondspele tot dusver aan te bied en vele komende geslagte te inspireer, terwyl dit tot die groei van die Statebondspelebeweging bydra.

James Nxumalo, eThekwini se burgemeester, het gesê: “Dis ’n oomblik om aan te gryp en ons posisie ferm te anker as ’n beslissende mag in wêreldwydsport.

“Daar kan geen beter simboliek vir Suid-Afrika en die Statebond wees as om in 2022 sy eerste Spele tot dusver in Afrika te gedenk as openingsplegtigheid op 18 Julie – die geboortedag van die grootste staatsman van ons tyd, ’n Nobelvredespryswenner, ’n held en ’n rolmodel vir vele, jonk en oud – Nelson Mandela.”

Die voorsitter van die bodkomitee, Mark Alexander, het sy dank teenoor die SSF betuig dat hulle die spele aan Durban toegeken het.

“Dis ’n groot dag vir Durban en vir Suid-Afrika terwyl ons die Spele van 2022 na Afrika bring,” het Mark gesê.

“Die bod om die Statebondspele aan te bied, sal die vordering bespoedig wat die stad met bouwerk en ontwikkeling maak, en met die bou van ’n inklusiewer burgery. Deur die Spele wil ons groter maatskaplike samehorigheid bou, geleenthede vir bemagtiging skep, voorspoed uitbrei en gelykheid verseker, terwyl ons ook die ekonomiese groei in ons land versnel,” het Mark gesê.

“Dis ’n buitengewone dag vir Durban, ’n heuglike dag vir Suid-Afrika en ’n historiese dag vir die Afrika-vasteland,” het Tubby Reddy, uitvoerende hoof van die bodkomitee, gesê.

“Ons is baie ootmoedig en geëerd om die vertroue van lede van die Stadbondslande te kry. Ek wil my opregte dank betuig aan die Statebondspelefederasie en die Statebondspeleverenigings vir dié eer.

“Ons het nie die reis tot hier alleen onderneem nie. Baie mense het ons langs die pad ondersteun. Eerstens, dankie aan die mense van Durban en Suid-Afrika wat ons met die bod bygestaan het.

“Die minister van sport, Fikile Mbalula, en sy kabinetskollegas, tesame met die provinsiale regering van KwaZulu-Natal, en natuurlik die stad eThekwini, het almal meegewerk om te verseker ons dien ’n bod van wêreldgehalte in en dat ons oor sewe jaar ’n suksesvolle spele sal aanbied.”

Bron: Sport24

Lees meer hier.