Die skoknuus oor Zayn Malik wat die gewilde One Direction-seunsmusiekgroep gelos het net ’n paar dae voor hulle in Suid-Afrika moet optree, het gelei tot ’n steurende tendens. Ontstelde tieneraanhangers het hulself begin sny en dan die foto’s op Twitter plaas.

“Met Zayn Malik kan ons nie op hierdie stadium bevestig of daar gevalle spesifiek in Suid-Afrika is nie,” het woordvoerder Chitra Bodasing gesê. Sy het verder uitgebrei dat hierdie snyery egter beslis plaasvind en wat meer skokkend is, is dat dit by kinders so jonk as 10 jaar oud plaasvind.

“Daar is nie baie kinders op hierdie ouderdom wat hulself sny nie, maar ons kan bevestig dat daar al sulke gevalle was.”

Groot bekommernis

Chitra sê dat die algemeenste ouderdom vir hierdie tipe self-skade van 14 tot 21 grens. Sy het bygevoeg dat ER24 bekommerd is dat daar ’n aantal kinders oor die hele land is wat hulself sny. “Dit is onder ons aandag gebring dat so veel as 50 kinders in sekere skole hulself sny as gevolg van verskeie redes. Hierdie is ’n skokkende getal. Om te sny is meer algemeen in hoërskole as in laerskole,” het sy gesê. Chitra het ook genoem dat hierdie reaksie vir Zayn ’n beklemtoning is van hoe maklik en hoe ver tieners sal gaan in ’n poging om met beroemdes op ’n persoonlike vlak te indentifiseer.

Die probleem met ’n gier soos hierdie is dat dit dalk nie-snyers onder druk kan plaas om hulself te begin sny net om by die res of by die vriendekring in te pas.

Uitvoerende lid van die Sielkundige Vereniging van Suid-Afrika en privaat kliniese sielkundige Rafiq Lockhat verduidelik aan Health24 dat tieners by die lewens van beroemdes ingesleep word omdat dit so fassinerend en ongelooflik lyk.

“Vir tieners wat worstel met normale alledaagse goed soos skool, ouers, broers en susters, word ’n beroemde persoon se lewe skielik fantasties. So hulle absorbeer hulself soort van in die persoon se lewe as ’n manier om uit hul eie vaal lewens te ontsnap. Elke enkele aspek van hierdie beroemdes se lewens word uiters belangrik aan hierdie tieners omdat daar so ’n groot verskil is aan hul eie ‘vervelige’ lewens.”

Hy waarsku teen self-skade as ’n manier van uitdrukking, en sê dat sodra dit gevestig word as ’n manier van uitdrukking, dit waarskynlik ’n presedent sal stel vir wat tieners die volgende keer sal doen as een of ander beroemde iets doen.

“’n Verslaafde snyer”

ER24 se trauma-ondersteuningskoördineerder Henning Jacobs, het in ’n verklaring gesê dat hierdie tendens na self-skade oor Zayn wat die Britse seunsmusiekgroep gelos het, dalk gespruit het van iemand wat verslaaf is aan sny.

“Iemand kon hierdie gier uit haat of kwaad gedoen het, maar is waarskynlik reeds ’n verslaafde snyer,” het hy gesê.

Die probleem met ’n gier soos hierdie is dat dit dalk nie-snyers onder druk kan plaas om hulself te begin sny net om by die res of by die vriendekring in te pas. Ander tieners raak egter so betrokke by ’n groep soos One Direction dat hulle glo hulle het ’n persoonlike vriendskap.”

Henning sê dat baie worstelende tieners hul identiteit en aanvaarding by groepe soos One Direction vind, en voeg by dat tieners die opbreek so ernstig en persoonlik opneem en voel asof die groeplid hulle ook verlaat het. Dit sal dus regte emosionele pyn veroorsaak, en hulle neig dan daarna om hulself te sny.

Raad vir ouers

Henning deel ook ’n paar wenke vir bekommerde ouers. Hy sê dat merke agtergelaat sal word as kinders hulself doelbewus sny. “As jou kind altyd langmoue of langbroeke dra, selfs regdeur die somer, sny hulle dalk hulself.” Hy waarsku dat ouers nie in woede moet uitbars as hulle uitvind dat hule kind hom- of haarself sny nie omdat dit die situasie erger sal maak. Probeer met liefde na hulle uitreik. Die eerste stap is om vas te stel of jou kind sny oor vriendskap- en groepsdruk, en of hulle verslaaf is aan sny.

Henning sê verder dat as hulle net sny as gevolg van groepsdruk, kan die ouers die kind help deur ondersteuning, liefde en leiding. As die kind egter ’n snyer is of verslaaf is aan sny as gevolg van trauma of depressie, moet die ouers by ’n opvoedkundige sielkundige hulp kry.

Meer oor Zayn

Zayn Malik, een van die vyf lede van One Direction, het in 2010 beroemd geword nadat hy in die realiteitstelevisiekompetisie, The X-Factor deelgeneem het.

Die 22-jarige het sy aanhangers onkant gevang toe hy die groep in Maart los, net ’n paar dae voor hulle in Suid-Afrika moet optree as deel van hul On The Road Again-wêreldtoer.

In ’n amptelike verklaring deur One Direction, het Zayn gesê: “Ek voel dat dit nou die regte tyd is vir my om die groep te los.” Hy voeg by dat hy graag wil ontspan en bietjie privaattyd uit die kollig soek. “Ek wil graag aan die aanhangers om verskoning vra as ek enigiemand in die steek gelaat het, maar ek moet doen wat in my hart reg voel.”

Lede Niall Horan, Harry Styles, Liam Payne en Louis Tomlinson sê hulle is hartseer om Zayn te laat gaan, maar respekteer sy besluit. “Die laaste vyf jaar was ongelooflik, ons is deur so baie saam, so ons sal altyd vriende bly.”

Health24