Ander 16-jariges sit vasgenael aan hul foon of tablet se skerm, of hang uit in die naaste inkopiesentrum, maar Kiara Nirghin, ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool St. Martin in Gauteng, bring die meeste van haar vrye tyd tuis saam met haar gesin deur, heel moontlik besig met haar volgende projek.

[caption id="attachment_138829" align="alignnone" width="600"]Foto: Fani Mahuntsi Foto: Fani Mahuntsi[/caption]

G’n wonder nie dat sy onlangs die gesogte topprys op die Google Science Fair gewen het vir haar projek wat droogte suksesvol bestry.

Huisgenoot het vroeër vanjaar dié tiener by haar ouerhuis in Meyersdal, Alberton, besoek.

Toe was dit reeds bekend dat Kiara die wenner is van die prys vir gemeenskapsimpak in Afrika en die Midde-Ooste. Sy het in Augustus die wêreldwye eindronde gehaal – en nou is sy die algehele wenner.

“Ek kon dit regtig nie glo nie. Ek kon werklik nie droom dat so iets kon spruit uit ’n gedagte wat eenvoudig by my opgekom het nie,” het sy vroeër aan Huisgenoot gesê.

Haar wen-idee – ’n oplossing wat gewasse teen ’n laer koste langer gehidreer hou – het sy oorsprong by die droogte wat groot dele van Suider-Afrika teister. Sy sê sy is van nature weetgierig en dit was ’n uitdaging wat sy wou aanpak.

[caption id="attachment_138828" align="alignnone" width="600"]Foto: Fani Mahuntsi Foto: Fani Mahuntsi[/caption]

“Ek was altyd, van kleins af, baie lief vir chemie. Ek onthou nog goed hoe ek op sewe met asyn-en-koeksoda-oplossings in plastiekkoppies geëksperimenteer het,” lui die inleiding tot haar aanlyn voorlegging aan die Google Science Fair.

“My aangebore nuuskierigheid en ondersoekende geaardheid het my eindelose liefde vir die wetenskap aan die gang gesit.

“Ek stel ook baie belang in voedselwetenskap en bakwerk. Ek glo dat voedsel en wetenskap ongetwyfeld aan mekaar gekoppel is in die ineengestrengelde web van die wetenskap. Ek is gek oor molekulêre gastronomie en die aanwending van wetenskaplike rigsnoere by die skepping van geregte,” sê sy.

[caption id="attachment_138830" align="alignnone" width="600"]Foto: Fani Mahuntsi Foto: Fani Mahuntsi[/caption]

Die natuurlike chemie tussen dié wetenskapsfoendi, haar passie en haar mees onlangse prestasie is dus glad nie ’n verrassing nie.

Kiara is die jongste van haar ouers se vier kinders. Ma Rekha (46) is tuisteskepper en pa Bob (47) sakeman. Kiara gee haar gesin erkenning omdat sy hulle as klankbord mag gebruik en ook vir hul volgehoue steun.

Sy het amper R700 000 in beursfinansiering gewen.

Welgedaan, Kiara!

- Shanaaz Prince