Dis presies wat ’n waterbewuste skool in KwaZulu-Natal gedoen het. En die besparings op hul begroting en wat die omgewing betref, was reusagtig.

[caption id="attachment_116302" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie: Pexels Foto ter illustrasie: Pexels[/caption]

In 2015 het die Sekondêre Skool Wyebank in Durban ’n reeks uiteenlopende waterprojekte begin om elke laaste druppel te bespaar.

Die 1 200 leerders is aangemoedig om ’n bottel skool toe te bring pleks van by ’n lopende kraan water te drink, watergulsige indringerplante is op die skoolterrein uitgeroei en ’n waterverbruik-app word ná ure gebruik. Deur bloot water anders te gebruik, het die personeel en leerders waterstryders geword.

Verlede jaar is die skool gekies om ’n elektroniese waterbestuurstelselprojek te lei to om hul buitensporige maandelikse waterrekening te probeer verlaag.

’n Plaaslike onderneming, Cyclone Technologies, het die tegnologie ontwikkel en gepatenteer.

Dit werk deur die skool se waterstelsel saans af te skakel wanneer niemand op die perseel is nie. Die ontwikkelaar Selvan Narainsamy sê: “Toe ons die waterverbruik die eerste keer beoordeel (deur middel van munisipale rekeninge), het ons gesien die rekeninge is uiters hoog.

“Ons het gesien die skool verloor gemiddeld 30 000 L water per nag en kon nie verstaan hoekom nie, want daar was snags niemand op die perseel nie.”

Hulle het drie ondergrondse lekplekke opgespoor wat toe herstel is. Teen daardie koers van waterverlies per dag sou die skool effektief amper 10 miljoen L water per jaar vermors het as die lekplekke nie opgespoor is nie.

Lees ook: Lekker vasvra oor water – elke druppel water tel

Die onderneming het toe ’n gespesialiseerde stelsel vir die skool ontwikkel wat nie net die waterstelsels elke aand outomaties afskakel nie, maar ook waterverbruik monitor en enige afwykings in die program bespeur – onder meer moontlike lekplekke en onwettige verbindings aan die skool se waterstelsel.

Gevolglik het Wyebank se maandelikse waterrekening met meer as die helfte afgeneem en word vermorsing op ’n doeltreffende en omgewingsverantwoordelike manier beperk.

Die skoolhoof, dr. Saths Govender, is vol lof vir die tegnologie. “Ons het voorheen tussen R40 000 and R50 000 per maand aan water bestee. Sedert die waterbestuurstelsel geïnstalleer is, bestee ons nou sowat R20 000 per maand. Nie net het ons sowat R200 000 per jaar aan ons waterrekening bespaar nie; ons bespaar ook ’n kosbare hulpbron.”

Lees ook: Draai toe daardie krane! 15 wenke om water te bespaar

Die stelsel bied ’n daaglikse lesing van die waterverbruik en as daar ’n toename in die verbruik of ’n onverklaarbare styging in die watervlak is, word dit uitgewys en ’n sein na ’n sentrale rekenaarstelsel gestel.

“Ons kan dan soek vir ’n gebarste pyp of lekplekke, wat ons in staat stel om proaktief pleks van reaktief te wees,” sê Selvan.

Die stelsel stuur toetsseine, data en bywerkings deur ’n rekenaar na ’n spesiaal ontwerpte app wat die skoolbestuur afgelaai het en deurgaans dophou. Dit het ook ’n spesifieke “oorheers”-kenmerk in geval van nood.

“Ons moes voorsiening maak vir gevalle soos brand aangesien die water snags heeltemal afgesny word. Diegene met toegang tot die app het dus die funksie om dit oor ’n afstand weer oop te draai in geval van ’n brand.”

Danksy die waterbesparings het die skool verlede jaar ’n Wêreldwater-en-kosprys in Maleisië gewen. “Die beste eienskap van die app is die intydse verbinding,” sê Selvan.

“Jy kan presies sien wat met die watervlakke gebeur terwyl dit gebeur en dit op sigself is die eerste stap in die voorkoming van vermorsing en geldbesparing.”

Die onderneming het nou ander skole in KwaZulu-Natal en staatsdepartemente met hul vindingryke waterbesparingstelsel genader. Maar die grootste struikelblok is om die tegnologie kostedoeltreffend genoeg te maak om op meer plekke inwerking te stel.

Selvan en sy span werk nou saam met die eThekwini-munisipaliteit daaraan.

“Ons glo elke nuwe skool wat gebou word, moet die tegnologie hê. Ons raam ons kan een skool gemiddeld 900 000 L water per maand bespaar. Nie net is dit ’n reuse finansiële besparing vir hulle nie, maar dit is ook belangrik vir waterbesparing.”

– Latashia Naidoo