Die trane het gevloei en ons land het gejuig nadat Suid-Afrika se atlete een van ons land se beste vertonings nog by vanjaar se Olimpiese Spele in Rio gelewer het. Ons het ons Spele-rekord geëwenaar deur weer met tien medaljes huis toe te kom; iets wat ons nog net in 1952 in Helsinki en 1910 in Antwerpen kon regkry.  

Maar nou is nie die tyd om op ons louere te rus nie, waarsku kenners. “’n Mens wil nie negatief wees nadat ons atlete so uitstekend presteer het nie, maar ’n mens kan natuurlik altyd verbeter,” sê prof. Ross Tucker, ’n sportwetenskaplike.

Waar kan ons verbeter? Ons moet eerstens begin deur te belê in belowende atlete en hulle op behoorlike oefenprogramme by goeie sportinstansies te kry, sê Ross. “Ons sukses in Rio is nie danksy ’n strategie nie, maar danksy individuele atlete wat geweldig hard oefen. Dink net hoe ver kan ons kom as ons ook belowende atlete behoorlik afrig.”

Wilhelm de Swardt, ’n sportskakelbeampte, stem saam en sê ons moenie onsself bluf ná ons prestasies vanjaar nie. “Akani Simbine het in die 100 meter wedloop vir mans vyfde geëindig en was drie honderdstes van ’n sekonde weg van ’n medalje.” Hy sê dié soort atlete moet by die regte sportstigtings oefen waar hulle goeie afrigters het en genoeg finansiële ondersteuning kry, want hulle het die potensiaal om in die toekoms selfs beter te vaar.   Ons onderpresteer ook wat swem betref, sê Ross en Wilhelm. “Dis sedert 2012 dieselfde twee swemmers – Chad le Clos en Cameron van den Burg – wat ons medaljes moet inryg,” sê Wilhelm. Hy meen daar is meer plaaslike talent wat net ontdek en behoorlik opgelei moet word.

Ross stem saam en voeg by dat daar meer in vroueatlete belê moet word. “Net twee van ons tien medaljes in Rio is deur vroue-atlete verower. Die tekort aan vroue in ons span is nie omdat ons nie plaaslike vrouetalent het nie.” Hoe kan Saskok help? Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) moet sorg dat atlete kan oefen vir hul items sonder om hulle oor geld te moet bekommer, sê Wilhelm. “Hulle staar hulle soms blind teen ranglyste pleks van om belowende atlete te help.”  

Ook Ross sê Saskok is geneig om net die atlete wat gereeld medaljes verower te help, maar nie altyd genoeg nie. “As iemand soos Sunette Viljoen, wat een van die top spiesgooiers in die wêreld is, moet smeek vir geld, kan jy dink hoe sukkel die opkomende atlete?”

Sunette het verlede jaar na Saskok gekap omdat hulle glo nie na hul atlete omsien nie. “Die atlete moet weke wag voor hul basiese onkostes gedek word en daar is nie eens ’n uitbetaling vir voedingkunde nie, wat een van die belangrikste dele van ’n topatleet is. Daar is ook nie bystand vir groot mediese uitgawes as jou mediese fonds dit nie meer kan dek nie,” het sy geskryf.

In watter items kan ons nog uitblink?

Daar is heelwat sportsoorte waarin Suid-Afrika kan uitblink, sê Wilhelm. “Boks was op ’n stadium een van ons sterkste sportsoorte, maar ons het in 1960 laas hiervoor ’n medalje gekry.” Suid-Afrika het al 19 medaljes vir dié sport verower.

Ook fietsry sowel as driekamp en gholf is van ons sterker items. “Ons swem beleef ’n krisis,” meen Wilhelm. “Ons het meer vroueswemmers nodig.”

Ross se Suid-Afrika se roei- en kajakspanne vaar deesdae baie goed en stem saam dat boks een van ons uitblinkeritems was en weer kan wees. “Vrouesport oor die algemeen, veral ons baan- en veldatlete, kan ook in die toekoms goed vaar.” Ongelukkig, sê hy, verg dit geld en mannekrag om hierdie sportsoorte beter te ontgin.

Hoe lyk ons kanse op Tokio 2020? Suid-Afrika kan goed vaar by die volgende Olimpiese Spele, wat oor vier jaar in die Japanse hoofstad aangebied word, mits ons atlete doelgerig oefen. Wilhelm sê die naelloper Akani Simbine, die spiesgooier Sunette Viljoen en die fietsryer Louis Meintjies se kanse lyk belowend. Ook die naelloper Wayde van Niekerk het ’n billike kans om weer uitstekend te vaar.

“Tensy die reëls verander en Caster Semenya nie mag deelneem nie, blyk sy onoorwinbaar te wees,” sê Ross oor ons sternaelloper. “Sy kan vir die volgende twee seisoene die Olimpiese kampioen wees.”

 

Hy sê ook die verspringatlete Luvo Manyonga, wat vanjaar silwer gewen het, en Rushwahl Samaai, wat in Rio negende geëindig het, se kanse lyk goed.

“Chad le Clos sal moet verbeter as hy in 2020 wil presteer,” sê Ross. Hy voeg by dat daar vanjaar baie druk op Chad was omdat hy die gunsteling was om die Amerikaanse sterswemmer Michael Phelps te troef en omdat Chad boonop deur ’n moeilike persoonlike tyd gaan. Kanker is onlangs by albei sy ouers gediagnoseer.

“Daar was baie wat hy moes balanseer. Hy kan tot in sy laat twintigs aanhou swem en is nog net so goed soos wat hy altyd was.