Die gesamentlike rykdom van die 20 rykste Suid-Afrikaners het met 8,6 persent gegroei vergeleke met verlede jaar, berig die Sunday Times.

Die myn- en vervaardigingsektor het swaargekry, terwyl die kleinhandel-, gesondheid- en mediasektor se waarde toegeneem het.

Die Shoprite-magnaat, Christo Wiese, het die mynwese-sakeman Patrice Motsepe as die rykste Suid-Afrikaner uitgestof.

Sy bates is teen einde Maart geskat op byna R27,5 biljoen, vergeleke met R15,2 biljoen op dieselfde tydstip verlede jaar.

Verlede jaar se derde rykste Suid-Afrikaner, Lakshmi Mittal, het ses plekke geval en is vervang deur die Aspen Pharmacare-baas, Stephen Saad.

In die vierde plek is die Assore-mynmaatskappy se Desmond Sacco. Die Rembrandt-trust, gekoppel aan die Rupert-familie, is vyfde.

Die ANC-adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, is in die 19de plek. Hy het belange in Bidvest, Mondi, MTN, SABMiller en die Standard Bank-groep.

Die gewese nasionale direkteur van openbare vervolging, Bulelani Ngcuka, is 137ste, die gewese ANC-tesouriers-generaal, Mathews Phosa, 210de en die gewese minister van omgewingsake en toerisme, Valli Moosa, 236ste.

– Sapa