Dis die dag van die grootste triomf van haar lewe, maar sy weet dit nog nie. Trouens, nadat sy in Durban twee goue medaljes by die eerste byeenkoms van 2009 se Wêreldbeker-swembyeenkoms gewen het, het dinge vir Kathryn Meaklim by die volgende drie byeenkomste in Rusland, Swede en Duitsland net skeefgeloop.

In Duitsland het die 20-jarige swemmer nierpypontsteking ontwikkel, en almal het gesê sy moet maar liewer die toer los en huis toe gaan. Maar dis nie in Kathryn se aard nie.

Sy is hier in Singapoer om dít waarmee sy begin het, klaar te maak. Die swemmer wat in 2008 by feitlik elke byeenkoms nog ’n medalje gewen het, voel moedeloos. Sy is te moeg om die volle 2 km te swem wat sy gewoonlik vir opwarming doen. Sy swem liewer net 200 m om haar kragte te spaar.

Toe sy op die wegspringblok klim vir die 400 m- individuele wisselslag, is dit sonder veel verwagtinge. Maar haar wegspring is tog goed . . . Ná vier lengtes, die halfpadmerk, hoor Kathryn haar spanmaats se stemme bo die geraas van die skare.

Sy’s verbaas om te hoor hoe opgewonde hulle is. Ná nog ’n lengte loer sy vinnig na die tydbord en is nog meer verbaas om te sien hoe vinnig sy swem. Sy voel moeg, maar sê vir haarself die wêreldrekord is binne bereik.

As sy die pas tot nou toe kon volhou, gaan sy dit nie oor die laaste twee lengtes verongeluk nie. En toe Kathryn ná die laaste lengte aan die muur raak, weet sy dadelik: Sy is Suid-Afrika se nuwe goue swemvrou – die eerste plaaslike vroulike swemmer ná Penny Heyns met ’n wêreldrekord agter haar naam.

Lees die onderhoud met Kathryn in Huisgenoot van 21 Januarie.