Pres. Jacob Zuma sal in sy staatsrede vanaand om sewe – terwyl verwag word die EFF kan die parlementsopening probeer ontwrig en 440 soldate solank gereed is om in te gryp – moontlik verwys na sake soos grondhervorming, ekonomiese herverdeling en raskwessies.

zuma flickr GovernmentZA

Intussen het die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) gepeil wat Suid-Afrikaners regtig pla . . . en gesê waaraan Zuma allereers aandag behoort te gee.

Die IRV sê ongeag politici se fokus daarop, toon hul jongste meningspeiling min Suid-Afrikaners beskou rassisme eintlik as ’n ernstige probleem. Hulle meen in die algemeen kwessies soos werkloosheid, swak dienslewering en misdaad is veel groter uitdagings.

“Die IRV se omvattende peiling van die openbare mening toon net 3 persent van Suid-Afrikaners sien rassisme as ’n ernstige onopgeloste probleem.

“Die meeste is baie meer bekommerd oor werkloosheid (40 persent), swak dienslewering (34 persent), onvoldoende behuising (18 persent), misdaad (15 persent) en swak onderwys (15 persent),” verklaar die instituut.

Daarby het 72 persent van die respondente in die IRV se peiling gesê hulle het nog nie persoonlike ervaring van rassisme in hul daaglikse bestaan beleef nie. En die oorgrote meerderheid (84 persent) het saamgestem dat die verskillende rassegroepe mekaar nodig het - en oor gelyke geleenthede vir mense van alle kleure.

Die meeste het ook min vertroue daarin dat rasgegronde wette en regulasies werklik lewens kan verbeter, of dat dit “deur meer grondhervorming” gedoen kan word.

Kortom, dis bemoedigend dat die meeste Suid-Afrikaners blykbaar besef die beledigende en vyandige uitbarstings wat soms die rasdebat in Suid-Afrika oorheers, verteenwoordig net ’n klein minderheid mense se siening, sê die instituut.

Maar hulle voeg by dat politici se rasse- en kolonialisme-retoriek wel blykbaar plek-plek groter inslag begin vind: Waar 62 persent van respondente in hul vorige opname saamgestem het met die stelling dat al die gepraat oor rassisme en kolonialisme te make het met politici wat die aandag van hul mislukkings wil aftrek, stem ’n beduidend laer 50 persent in die jongste opname daarmee saam.

“Dit suggereer gewone burgers begin toenemend inkoop in ideologie wat die blaam vir voortdurende armoede op wit rassisme en bevoorregting plaas,” sê die IRV.

Hulle wys ook op dié voorbeelde van “beduidende vordering” in die transformasie van die Suid-Afrikaanse werksomgewing, bate-eienaarskap en staatsinstellings:

  • Die aantal swart topbestuurders het van 2000-2015 met 117 persent toegeneem;
  • Aandelemark-eienaarskap deur swart Afrikane het tot 23 persent in 2013 toegeneem. Terselfdertyd het sulke wit eienaarskap met meer as die helfte gedaal;
  • Teen verlede jaar was 64,5 persent van regters van ons hoër howe swart (swart Afrikaan, bruin en Indiër). In 1994 was sowat 98 persent van hulle wit.

Die IRV meen ook rassetransformasie moet gemeet word aan die “ekonomies aktiewe en gekwalifiseerde bevolking” en nie die totale bevolking nie. “SA se onderrigvlakke skep ’n transformasie-plafon,” sê Gwen Ngwenya, die hoofbedryfsbeampte.

Regeringsbeleid het sover nog nie daarin geslaag om ’n klomp hindernisse vir vooruitgang te oorkom nie en in sommige gevalle trouens die situasie vererger. Volgens die IRV se beleidsnavorsingsafdeling sluit die hindernisse in:

  • ’n swak ekonomiese groeikoers, tans geraam op minder as ’n half persent per jaar, pleks van ’n verlangde 6 persent;
  • “een van die swakste openbare skoolstelsels ter wêreld”, ongeag die reusebelastingtoekennings vir onderwys;
  • Die groot aantal studente wat nie na wense vorder by tersiêre instellings nie;
  • Hardnekkig hoë werkloosheidsyfers, vererger deur arbeidswetgewing wat gewelddadige stakings aanmoedig, werkskepping kniehalter en dit moeiliker maak vir nievaardige werkers om werk te kry;
  • ’n beperkte kleinsake-sektor wat sukkel om midde-in versmorende rompslomp, lae groei, en gebrekkige vaardighede te floreer.

Red Suid-Afrika . . .

Intussen het Sipho Pityana van die Save South Africa-drukgroep by ’n saamtrek genaamd “The Real State of the Nation Address” gesê burgers se reaksie op die groep se versoek dat hulle die huidige toedrag van sake in Suid-Afrika moet beskryf, kan in drie woorde opgesom word: “Nepotisme, korrupsie en staatskaping.”

Hy het gesê die nasie het nie meer vertroue in Zuma se leierskap nie, die burgerlike samelewing vertrou hom nie en toenemend ook nie mense in sy eie party en dié se alliansie-bondgenote nie.

“Moenie bodder om ons van ’n radikale (ekonomiese) agenda te vertel nie. Vertel ons eerder watter vordering jy in jou agt jaar as president gemaak het,” het Pityana gesê.

Die greep van staatskaping ruk die hart uit ons staatsondernemings, vuur kwaai finansiële wanbestuur aan en bevorder ongehinderde plundering, het hy gewaarsku.

Burgers moet saamstaan teen diefstal, korrupsie, magsmisbruik, die kontaminasie van staatsinstellings, die verwringing van die wetstoepassingstelsel vir politieke gewin en minagting vir ons Grondwet.

Daarby moet hulle steeds onvermoeid bou aan ’n samelewing op grond van maatskaplike geregtigheid, menswaardigheid, gelykheid en demokratiese beginsels, het Pityana benadruk.