Volgens die foonmark Phonefinder is Samsung steeds die gewildste selfoonhandelsmerk in Suid-Afrika, maar word daar meer Blackberry-slimfone as die Galaxy S5 en Apple se jongste iPhone verkoop.

Hier is die topverkoper-slimfone volgens uitslae op die platform wat meer as 100 000 trefslae per maand kry van mense wat slimfone wil koop.

Topverkopers

  1. BlackBerry Z3
  2. Samsung Galaxy S5
  3. Apple iPhone 6 (16G)
  4. BlackBerry 9720
  5. Apple iPhone 5 (16GB)

[caption id="attachment_102462" align="alignnone" width="600"]Die BlackBerry Z3 Die BlackBerry Z3[/caption]

“Ons doelwit is om neutraal te wees. Ons is ’n onbevooroordeelde platform waar besoekers pryse kan vergelyk wat hul sak en behoeftes pas,” sê die hoof uitvoerende beampte Lance Krom aan Fin24.

Volgens Phonefinder se data het die prys ’n beduiende invloed op watter slimfoonkontrak mense kies. Die Blackberry Z3 kos sowat R200 per maand op die meeste netwerke.

Hier is die gewildste pryse wat Suid-Afrikaners bereid is om vir ’n slimfoonkontrak op te dok:

  1. R239 per maand
  2. R249 pm
  3. R169 pm
  4. R499 pm
  5. R649 pm

Dié prysinligting stem ooreen met navorsing deur die International Data Corporation (IDC) oor streektendense waarin bevind is dat koste ’n belangrike oorweging is wanneer mense ’n nuwe slimfoon koop. Volgens daardie data was daar ’n oplewing van 25 tot 33 persent in die markaandeel van slimfone wat tussen R1200 en R2 400 kos toe mense minder gevorderde selfone begin agterlaat. Die data het ook getoon dat Suid-Afrikaners oor die algemeen wêreldtendense in gewildheid volg.

Lance sê die iPhone 6 het die botoon gevoer in die stryd tussen die slimfoonreuse Apple en Samsung tot en met die bekendstelling van die Galaxy S6.

“Net voor Samsung hul nuwe vlagskipfoon in Suid-Afrika bekendgestel het, was die gewildste van Samsung en Apple op Phonefinder die iPhone 6. Maar kort nadat Samsung se nuwe foon bekendgestel is, was daar ’n verskuiwing in verbruikersgedrag.”

Hier is Phonefinder se Suid-Afrikaanse resultate in die stryd tussen Samsung en Apple:

  • Samsung Galaxy S6 Flat 32GB (G920) – 41 persent
  • Apple iPhone 6 (16G) – 28 persent
  • Samsung Galaxy S6 Edge 64GB (G925) – 16 persent
  • Apple iPhone 6 (64G) – 15persent

“Die Galaxy S6 Flat ding mee met die iPhone6, maar Samsung wen elke keer die stryd (met ’n kort koppie, volgens Phonefinder). Dieselfde geld vir albei vervaardigers se alternatiewe toestelle in dieselfde klas.”

Maar Apple kan dalk weer op dreef kom nadat die iPhone-vervaardiger ’n gesonde groei van 58 persent in Afrika vir hul iPhone6 met ’n groter skerm ervaar het.

“Apple se groei is hoofsaaklik te danke aan die ongelooflik sukses van hul iPhone6 en iPhone6 Plus, wat eindelik die vervaardiger in die grootskerm-afdeling geplaas het, wat voorheen deur Samsung oorheers is,” sê Nabila Popal, ’n navorsingsbestuurder vir die IDC in die Midde-Ooste en Afrika.

Fin24