KAAPSTAD - Die fenomenale bedrag van $35m (sowat R450m) vir Suid-Afrika se duurste enkelgesin-huis in Kampsbaai sal volgens Lew Geffen van Sotheby’s International Realty in Suid-Afrika, dieselfde prys wees vir 'n huis in Beverley Hills as dit op die Franse Riviera geleë is.

"Dis inderdaad selfs beter as die meeste huise wat in daardie areas te vinde is" het hy Woensdag aan Fin24 gesê.

Hy noem ook dat die Kaapse eiendomsmark met die voortslepende swak rand reeds geruime tyd in die rigting van internasionale geldwaardes beweeg.

Boonop is Kaapstad een van die begeerlikste bestemmings, beide om te besoek en om eiendom te besit.

“Casablanca in Kampsbaai is een van daardie eiendomme waar ons appels met appels moet vergelyk - nie na die eiendom kyk in terme van grondwaarde en wat verder in die pad af beskikbaar is nie, maar hoe dit sal vergelyk met soortgelyke eiendomme wêreldwyd".

“Daar is baie min privaat-stadswonings in die wêreld waar jy gerieflik 1000 mense op 'n slag kan onthaal, of waar 48 mense vir 'n formele dinee kan aansit," sê hy van die huis wat deur Sotheby's beskryf word as "ontwerp en gebou vir 'n internasionale magnaat wat dit geniet om rojaal op groot skaal te onthaal".

Die huis spog met 'n 18-sitplek privaat fliekteater, 'n volgrootte muurbalbaan, 'n masseerterapiekamer, 13 badkamers, 'n 14-motor motorhuis, 'n 12-sitplek sauna en onvergeetlike uitsig oor Kampsbaai-strand.

Ander eiendomme naastenby in dieselfde liga as Casablanca is 'n strandlandgoed in die Bahamas vir $36m en 'n chateau in California vir $34.5m.

Bron: Fin24

KLIK HIER vir foto's van die huis