[caption id="attachment_160338" align="aligncenter" width="600"]Foto: Pexels Foto: Pexels[/caption]

Waar gaan die geld vandaan kom om die staat se boeke te laat klop en aan soveel uiteenlopende behoeftes aandag te gee?

Te midde van swak ekonomiese groei, internasionale kredietgraderingsagentskappe wat Suid-Afrika se finansiële besluite met valkoë dophou, studente wat gratis onderrig wil hê en die pres. Jacob Zuma-groepering in die regering wat na bewering brand om die geldkrane oop te draai, sal Gordhan behoorlik ’n balanseertoertjie moet uithaal.

Waarvoor kan ons alles vanmiddag ons ore spits?

“Almal gaan Gordhan baie fyn dophou wanneer hy sy begrotingsrede vir die 2017/2018-belastingjaar lewer,” sê Yolandi Esterhuizen, ontleder van die boekhou-en-sakebestuurgroep Sage.

In die lig van ’n staatsinkomstetekort van sowat R28 biljoen, stadige ekonomiese groei en groot werkloosheid, verwag sy dat Gordhan streng belastingmaatreëls kan aankondig om te verseker die regering het genoeg geld in sy koffers om sy doelwitte te probeer bereik.

Moontlike bronne vir daardie ekstra inkomste?

Die minister kan onder meer persoonlike inkomste-, maatskappybelasting of die BTW-koers verhoog.

Hy kan ook sorg dat daar behoorlik werk gemaak word van nuwe soorte belasting wat in onlangse jare aangekondig is, soos suiker- (’n belasting op byvoorbeeld gaskoeldranke met die oog op ’n gesonder bevolking) en koolstofbelasting (op besoedelende maatskappye, voertuie, ensovoorts).

Yolandi reken ’n nuwe inkomstebelastingkategorie vir hoëinkomstegroepe of doodgewoon ’n belasting op rykes (“superbelasting”) is nog moontlikhede in die regering se strewe na nuwe inkomste en om ongelykheid te verminder.

Verwag ook weer ’n beduidende verhoging in sogenaamde sondebelasting (op drank en sigarette).

Ons kan vanmiddag dalk ook meer hoor oor hoe die regering maatskappye gaan aanspoor om werknemers deur lenings en beurse vir hul kinders se tersiêre onderrig te help betaal, meld Yolandi.

Wetgewing is byvoorbeeld verlede maand gepromulgeer om die bedrae te verhoog rakende beurse wat van belasting kwytgeskeld word.

Sy hoop die begrotingsrede verskaf ook groter duidelikheid oor die toekoms van belastingvoordele vir voorsorgfondslede en beoogde maatreëls wat sulke lede sal verplig om ’n deel van hul aftrede-uitbetaling te herbelê vir ’n maandelikse pensioen.

Ook oor of die nuwe nasionale minimum loon (R3 500 maandeliks, R800 weekliks of R20 per uur) met verdrag geïmplementeer gaan word om byvoorbeeld klein en medium ondernemings kans te gee om daarby aan te pas en ook inflasierisiko’s te verlaag, asook hoe die beoogde nasionale gesondheidsversekeringsplan befonds gaan word, want dit raak eindelik elke Suid-Afrikaans verbruiker.

“Radikale ekonomiese transformasie?”

Die begrotingsrede vind plaas te midde van beraamde swak ekonomiese groei van sowat 1,1 persent vir 2017 en in die aanloop na die regerende party se verkiesingskonferensie einde vanjaar, sê die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN).

Die president het onlangs heelwat oor “radikale ekonomiese transformasie” gepraat en die SAKKN sal wil sien hoe daardie term in die begrotingsrede vertolk gaan word.

Die organisasie sal ook wil weet hoe daar in die begroting aandag gegee word aan die afname in werkgeleenthede in die mynbou- en vervaardigingsbedryf en hoe die ekonomiese sektore wat wel groei, onderskraag kan word om meer werk te skep.

Hulle hoop nie Gordhan sal sowel persoonlike inkomste- sowel as maatskappybelasting verhoog nie. Sulke “regressiewe stappe” sal teenproduktief wees en onder meer kapitaalbeleggings in Suid-Afrika afskrik. Eindelik sal dit ook tot hoër inflasie bydra, aangesien maatskappye hul produk- en dienspryse sal verhoog om die groter belastinglas te versag.

Voorts sal die SAKKN graag wil sien dat Suid-Afrika se hulpbronne doeltreffender ingespan word om infrastruktuurprojekte te bespoedig, insluitend wat watervoorsiening, energie, pad-, lug- en seevervoer en telekommunikasie betref.

Hulle hoop ook die begroting sal aandag gee aan broodnodige regstreekse finansiële steun vir die ontwikkeling van klein en medium ondernemings.

Gordhan en Brian Molefe:

Die amptelik opposisie verwag Gordhan sal weens sy baie beperkte finansiële speelruimte belastingverhogings aankondig.

Hy kan óf die persoonlike inkomstebelastingkoers met sowat ’n persentasiepunt verhoog óf rykes meer laat betaal deur byvoorbeeld individue wat meer as R1,5 miljoen jaarliks verdien se koers tot 43 persent te verhoog, reken die DA.

Hulle is ook bekommerd oor die risiko wat staatsmaatskappye wat reeds regeringswaarborge van sowat R470 biljoen ontvang het vir die staatskas en dus belastingbetalers inhou.

“Bykomende bestedingsdruk dreig in die vorm van die openbaresektor-lonerekening, tersiêre onderrig en nasionale gesondheidsversekering.”

Intussen is hulle diep bekommerd oor die aankondiging dat Molefe as parlementslid ingesweer gaan word en die gerugte dat hy Gordhan selfs kan vervang of as adjunkminister van finansies aangestel kan word om die minister se invloed te probeer beperk.

“Kortom: Die aanstelling van Molefe in enige posisie in die staat se ‘finansfamilie’ sal ’n duidelik gevaarteken vir die onafhanklikheid van die nasionale tesourie wees, en dit sal sleg wees vir Suid-Afrika,” verklaar die DA.