Die gesondheidsdepartement het Dinsdag met die viering van Wêreldteenrookdag gesê hy beplan om die Wet op Tabakbeheer strenger te maak om te strook met die Wêreldgesondheidsorganisasie se raamwerkkonvensie op tabakbeheer.

Dit volg op die wet van 2009 wat rook in openbare ruimtes verbied.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het gesê hy beplan ’n selfs strenger toepassing van die verbod om in openbare plekke te rook, wil die verkoop van sigarette by winkeltoonbanke stopsit, asook sigaretmasjiene, en maatskappye dwing om hul produk in bruin papier met geen produknaam daarop nie te verpak.

Lees ook: Dis wat sal help om daai kankerstokkie vir goed dood te druk

Hy het Dinsdag aan die SAUK gesê vandat die strenger wet in 2009 in werking getree het, het mense wat rook van 25 tot 17 persent afgeneem. “Dit werk beslis. Baie Suid-Afrikaners sal jou sê dat hulle die skoon lug waardeer.”

Tog eis die rookgewoonte steeds jaarliks 44 000 mense en Aaron sê ’n rokery het “geen plek in die moderne lewe nie”.

Aaron het gesê in Brittanje, Ierland, Australië en Frankryk word produkname op sigaretpakkies reeds verbied en Nieu-Seeland het Dinsdag aangekondig hulle gaan dit ook doen om te strook met die Wêreldgesondheidsorganisasie se aanbevelings.

“Ons is verbygesteek,” het Aaron gesê en bygevoeg hy is vasbeslote om Suid-Afrika op die hoogte van wêreldtendense te bring.

“Dit moet totaal ontoelaatbaar wees om in hospitale te rook. Op die O.R. Tambo-lughawe beweeg jy deur ’n rookwolk wanneer jy die gebou verlaat,” het hy gesê.

Dit is hoekom hy die afstand van geboue af waar mense mag rook, groter wil maak. En die “subtiele advertering” op winkeltoonbanke moet ook aandag kry.

“Hulle moet die sigarette êrens anders gaan wegsteek. Hulle mag dit nie op oop toonbanke vertoon nie. En die sigaretmasjiene moet ook waai.”

Hy het gesê sigarette moet in bruin pakkies verpak word met grafika wat die skade aandui wat dit kan aanrig. “Geen produkname, geen logo’s, geen kleur . . .”

Daarby beplan hy om e-sigarette te bekyk. Volgens hom beveel die WGO reeds aan dat e-sigarette soos alle ander sigarette verpak word. “Sommige bevat nikotien en is net so sleg as gewone sigarette. Dit stel mense bekend aan tabak.”

Lees ook: Rokers let op! Hier is waarom jy vandag nog jou laaste dampie moet slaan

Aaron se woordvoerder, Joe Maila, het aan Fin24 gesê die departement bekyk nog wat die regte tyd is om ’n wetsontwerp in te dien, maar het daarop gewys dat 2016 ’n kort parlementsjaar is weens die munisipale verkiesing.

Joe het gesê tabakmaatskappye voer aan daar gaan werkverliese wees as die wet strenger gemaak word, maar hy meen dis foutief. “’n Mens hoef nie iemand ongesonde dinge te gee om werk te skep nie.”

Hy het gesê daar kan groot weerstand kom teen die nuwe wette en dat die regering selfs hof toe gesleep kan word. “Dis nie ’n maklike taak nie, maar ons is gereed daarvoor. Voorsorg voorkom nasorg.”

Bron: Fin24

Ander stories op Huisgenoot.com

Kyk: Mense vorm ‘trampolien’ om gesin uit brandende woonstelblok te red

Wêreld se eerste 3D-gedrukte motorfiets lig soos ’n veer

Twee van ons land se mooistes byeen in Monaco!

Gert van Rooyen: ‘Slagoffer’ verbreek stilte ná 39 jaar

‘Ek is so dankbaar’: Vrou wat 18 jaar gelede uit brandende gebou gered is, herenig met haar redder