Nog op pad na Port-au-Prince het hulle die eerste van vele grusame tonele gesien: ’n Man se lyk het oor die pad gelê, maar waar sy voete moes wees, was net vleis en been. Die honde het dit afgekou.

Toe het hulle besef: Geen TV-tonele van die aardbewing wat Haïti in puin gelê het, kon hulle voorberei op wat hulle in die hoofstad sou aantref nie.

Mothusi Malaka (30) onthou die eerste pasiënt wat hy in die veldhospitaal gesien het, was ’n jong seun wat deur die polisie in die kop geskiet is omdat hy ’n halwe liter water probeer steel het. ‘‘Ek weet dit was ’n aardbewing, maar dit het meer gevoel asof ons in ’n veldslag was. Dit was soos oorlog.’’

Almal sukkel nog om te slaap. Die beelde van inwoners wat hul families soek en die lyke en beseerdes spook by hulle.

Twee dae ná die aarbewing was die span op ’n vliegtuig nadat die hulporganisasie Gift of the Givers hulle gevra het om ’n span bymekaar te kry. Hulle was die eerste internasionale reddingsgroep wat ’n slagoffer lewend uit die puin gehaal het. Die groepleier, Mark Louw, wat 20 jaar ondervinding in soek-en-reddingswerk het, het seker gemaak sy span bly veilig, ook te midde van vele naskokke.

Gift of the Givers het al sowat R8 miljoen vir mediese toerusting en voorraad, tente en kos ontvang, benewens 15 ton kos en 90 000 liter mineraalwater. Die SA Rooi Kruis het al meer as R500 000 ingesamel en die internasionale organisasie Dokters Sonder Grense het al R453 142 van Suid-Afrikaners ontvang.

Tog wag duisende steeds op basiese voedsel. Lisia Jilles (45) woon in ’n kamp buite Port-au-Prince, een van 300 kampe wat in en om die stad vir meer as 600 000 haweloses opgerig is. Die VN deel daagliks twee miljoen maaltye uit, maar sy en haar familie van 20 het nog niks ontvang nie. Vir mense soos Lisia moet die toekoms ongelooflik somber lyk. Slegter kan dit nie gaan nie.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 4 Februarie.