Sarah* en John* Parker van Johannesburg was heel gerus wanneer hul eenjarige seun, Jamie*, in sy sandput onder die eikeboom in hul agterplaas gespeel het. Tot op 6 Mei 2016.

Op dié angswekkende dag het Jamie afgekom op ’n sampioen wat onder die boom gegroei het en dit in sy mond geprop. Toe sy ouers kliek wat gebeur het, het hulle hom dit dadelik laat uitspoeg en onmiddellik die gifhulplyn in Kaapstad gekontak.

Sarah het aan Huisgenoot se sustertydskrif YOU gesê uit kommer het hulle ook foto’s van die sampioen aan die gifsentrum gestuur.

Hulle het uitgevind die sampioen staan bekend as “death cap”. Dit word ook duiwelsbrood, duiwelskos, duiwelsnuif, doodsbekerswam, slangbrood en slangkos genoem. Dit is die giftigste sampioen ter wêreld; ’n volwassene kan sterf as hy selfs net ’n halwe een inkry en nie betyds behandeling ontvang nie.

Sarah en John is inderhaas met Jamie hospitaal toe. Hy is deur die loop van die aand gemonitor en moes vir 16 uur elke vier uur geaktiveerde houtskool inkry.

Die verligte ma vermoed Jamie het die sampioen bloot gekou en niks daarvan gesluk nie, maar sê nietemin hulle is baie gelukkig dat hy oorleef het.

Omdat Jamie geen simptome gehad het nie en min inligting oor hierdie sampioen beskikbaar is, moes hy die volgende week bloedtoetse ondergaan om seker te maak sy liggaam word nie tog vergiftig nie, het Sarah gesê.

Volgens dr. Cindy Stephen, direkteur van die gifsentrum by die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad, bevat duiwelsbrood, oftewel Amanita phalloides, amatoksien.

Hierdie gifstof kan die lewer so ernstig beskadig dat die pasiënt sterf, en dit maak duiwelsbrood die giftigste sampioen ter wêreld.

[caption id="attachment_129825" align="aligncenter" width="600"]So lyk die gevreesde giftige sampioen. Foto: pixabay.com So lyk die gevreesde giftige sampioen. Foto: pixabay.com[/caption]

Dié middelslag-paddastoel het ’n bolvormige basis. Dis wit (maar word liggeel/olyfgroen) en het wit kieue, met ’n ring hoër op in die stam.

Cindy waarsku dis moeilik om een van hierdie sampioene uit te ken omdat van die eienskappe daarvan verander namate dit groei.

Boonop begin ’n mens eers 24 uur ná besmetting simptome ervaar, onder meer buikpyn, braking en diarree, wat tot lewer- en nierskade kan lei. Selfs ’n klein hoeveelheid (¼ van die hoed vir kinders en een hoed vir volwassenes) kan dodelik wees; net 50 persent van mense oorleef nadat hulle dit ingekry het.

Duiwelsbrood kom algemeen in Suid-Afrika voor. Dit groei veral in die somer en herfs ná ’n reënbui onder eike-, denne- en ander gewilde bome.

Cindy raai mense aan om waaksaam te wees en liefs alle sampioene buite die bereik te hou van kinders en troeteldiere.

Sou iemand wel ’n giftige sampioen van ’n onbekende spesie inneem, moet die mens so gou moontlik geaktiveerde houtskool gegee word, en verkieslik deur ’n mediese kenner. Mense wat duiwelsbrood geëet het, kry ekstra toedienings van geaktiveerde houtskool en ander intensiewe behandeling, maar ongelukkig is geen spesifieke teenmiddel daarvoor al gevind nie.

Cindy beveel aan jy sit ’n liniaal langs die volledige sampioen (stam en hoed ingesluit) en neem van bo, van die kant en van onder (sodat ’n mens die kieue kan sien) foto’s daarvan sodat die spesie bepaal kan word. Bel dan die gifhulplyn vir bystand.

* Skuilname.

Bel die gifhulplyn dag of nag by 0861-555-777.

– Shanaaz Prince