Verlede week is bekendgemaak dat Suid-Afrika in Desember 2014 die eerste suksesvolle penisoorplanting gedoen het op ’n 21-jarige man wat syne verloor het toe sake tydens ’n inisiasie-ritueel skeefgeloop het.

Drie maande na die operasie het die pasiënt weer volle werking van die orgaan en is hy doodgelukkig.

Die orgaan is tydens ‘n twee-uurlange operasie geoes nadat die skenker breindood verklaar is. Dokters het ook probeer om die penis se velskakering so na as moontlik aan dié van die ontvanger te maak.

Daar is nog nege ander mans wat gereed staan vir penisoorplantings. Omdat die eerste operasie só suksesvol was, sal die ander plaasvind sodra skenkers beskikbaar is.

Hoe werk dit as mens organe skenk in Suid-Afrika?

Registreer aanlyn of bel die Orgaan Skenkersstigting by 0800 22 66 11. Jy sal dan ‘n kaartjie en plakkertjies ontvang wat jy op jou ID en bestuurslisensie moet plak.

Watter organe kan mens skenk?

Met jou hart, lewer, pankreas, niere en longe kan jy sewe lewens red.

Watter weefsel kan mens skenk?

Met jou korneas, vel, been en hartkleppe kan jy tot 50 lewens red.

Kan jy kies wat jy laat skenk?

Beslis. Lig net jou vriende en familie in wat jou wense is.

Bronne: News24, City Press, odf.org.za