Presies 364 dae voor die gewese Protea-netbalkaptein Liezel Wium se troue met haar man, Conrad Stolz, het hulle nooit kon dink hulle sal trou nie.

Toe hulle mekaar op 12 November verlede jaar by ‘n bergfietsresies ontmoet, het hulle wel dadelik oor die weg gekom.

“Ons het lekker gekliek,” vertel Liezel.

“Ek het werklik nie aan trou gedink nie, maar tog geweet dat hy baie oulik is. Ons het vreeslik lekker gekuier en gesels – vir ure.”

Volgens Liezel het hulle mekaar eers weer in Februarie vanjaar gesien ná hulle eerste ontmoeting.

In Maart het hulle verloof geraak.

“In April is Conrad oorsee om in Spanje te gaan deelneem. Ek het darem kans gekry om vir hom te gaan kuier.”

En toe die digitale klokwerk vanjaar 11-11-11 wys, het dié paartjie op ‘n plaas in Stanford in die Bosveld aan mekaar trou beloof.

Conrad, wat oorspronklik van Lydenburg afkomstig is, is ‘n driekampatleet wat ongeveer ses maande per jaar oorsee is. Hy is ook ‘n Xterra-wêreldkampioen en het vanjaar die ITU Cross-Tri World-kampioenskappe gewen.

Liezel, wat tot vroeër vanjaar die Protea-kaptein was, is nog besig met netbal-afrigting en is ook lid van die Trinity-netbalklub.

“As die geleentheid kom om weer te kan netbal speel, sal ek dit aangryp, maar vir nou geniet ek die afrigting,” het sy vertel.