’n Insleeptrokbestuurder van Kaapstad is Sondag twee keer in hegtenis geneem.

Die Highway Ghost-eenheid het Sondag die 37-jarige bestuurder in hegtenis geneem nadat hy aan die verkeerde kant van die pad op die N2 by die Liesbeek Parkway-afrit bestuur het.

Toe beamptes hom vir sy bestuurslisensie vra, het hy beweer hy’t dit by die huis vergeet, het Maxine Jordaan, woordvoerder van die Stad Kaapstad se veiligheid en sekuriteitsdirektoraat gesê.

Toe die polisie ontdek hy’t vir hulle valse inligting gegee, is hy meegedeel dat hy in hegtenis geneem sal word.

“Die bestuurder het toe probeer weghardloop, maar twee beamptes het hom aangekeer. Hy is na die Mowbray-polisiekantoor geneem waar ’n dossier vir die verskaffing van valse inligting en verset teen inhegtenisneming oopgemaak is.”

Die bestuurder het glo probeer ontsnap nadat hy gevra het om ’n oproep te maak. Hy’t ’n beampte uit die pad gestoot, oor die toonbank gespring en uit die polisiekantoor gehardloop. Hy is in Mowbray aangekeer.

Die eienaar van die insleepdiensmaatskappy waar hy werk, het sy leerlingslisensie aan die polisie oorhandig. “Nadat hulle sy ID-nommer in die stelsel ingepons het, het die volgende aanklagte teen hom opgekom: Gewapende roof, aanranding met die doel om ernstig te beseer, dwelmhandel, besit van dwelms, voertuigdiefstal, aanranding, roekelose en nalatige bestuur en roof met ’n vuurwapen,” het Maxine gesê.

Sy sê die verdagte is tans op parool vir gewapende roof. Hy staan ook tereg op aanklagte van verskaffing van valse inligting, verset teen inhegtenisneming, ontsnapping uit aanhouding en aanranding. Hy verskyn volgende week in die Wynberg-landdroshof.

Bron: News24

Lees ook:

Khloé Kardashian: Ek is op 15 in hegtenis geneem

Inbreker vasgetrek nadat hy selfoon, motorsleutels op toneel vergeet