’n Suid-Afrikaanse man wat van Sierra Leone teruggekeer het, het negatief vir Ebola getoets, het die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) Vrydag gesê.

“Die pasiënt is in ’n stabiele toestand in die hospitaal,” het die woordvoerder Nombuso Shabalala gesê.

“Reisigers sonder simptome wat van die geaffekteerde lande terugkeer, hou geen risiko vir ander in nie.”

Sy het gesê mense wat in die kleinhandel-, veiligheids- en mynboubedryf in Guinee, Sierra Leone en Liberië werk, hoef nie bekommerd te wees nie. Net dié wat sonder behoorlike beskerming die bloed, ontlasting en braak van mense met die siekte hanteer, loop die risiko om die siekte op te doen.

Nios het Donderdag ontken dat die man Ebola opgedoen het.Die man, wat ’n vlootbestuurder in Sierra Leone is, het angstig geraak toe hy na Suid-Afrika terugkeer en is toe na die Addington-hospitaal in Durban verwys.

Lucille Blumberg, Nios se hoof vir openbare gesondheid, toesig en reaksie, het Donderdag gesê: “Maar hy het nie (hospitaal toe) gegaan nie, want hy het nie voldoen aan wat ons ‘verdag vir Ebola’ noem nie. Daar was geen aanduiding daarvan nie; hy het nooit die risiko geloop nie en daar was nie ’n verdagte geval nie.”

Nombuso het gesê aangesien daar nie risikofaktore was nie en hy nie aan Ebola-lyers blootgestel was nie, het die KwaZulu-Natalse gesondheidsdepartement Donderdag gereël dat hy vir verdere ondersoek opgeneem word om spesifiek te kyk vir ander infeksies, waaronder malaria.

Die vakbond Hospersa het Donderdag in ’n verklaring gesê ’n pasiënt wat Ebola opgedoen het, het “weggeloop” uit die hospitaal.

“Hospersa het nuus gekry van paniekerige personeel by die Addington-hospitaal dat ’n pasiënt Woensdag uit die hospitaal weggeloop het nadat toetse bevestig het hy het Ebola opgedoen.”

The Star het Donderdag berig ’n vermeende Ebola-pasiënt is in die hospitaal opgeneem. KwaZulu-Natal se LUR vir gesondheid, Sibongiseni Dhlomo, het bevestigend geantwoord op die koerant se vraag of bloedtoetse gedoen is omdat Ebola vermoed word.