IN DIE Atacama-woestynwind in Chili wapper 33 vlae – een vir elke mynwerker wat gered is nadat hulle meer as twee maande lank 700 meter onder-in die San José-goud-en-kopermyn vasgekeer was. En soos dikwels tevore is Suid-Afrikaanse redders betrokke.

‘‘Dis nog baie feestelik hier. Die gebeure hier het die mense van Chili herenig. Dis so lekker om deel daarvan te wees,’’ vertel die 33-jarige Mario Scholtz vanuit sy hotel op Copiapó, ’n dorpie sowat 50 km van die myn. Dis ’n dag nadat die laaste myner uit die reddingskapsule, die Phoenix, geklim het en die opgewondenheid in sy stem oor die telefoon is onmiskenbaar.

Hy en drie ander Suid-Afrikaanse operateurs van die Suid-Afrikaanse konstruksiediensmaatskappy Murray & Roberts het die Strata 950-boormasjien sedert einde Augustus beman. “Ons was Plan A,’’ vertel hy trots.

Hulle was die eerste boor wat een van die drie potensiële reddingskagte 17 dae ná die ineenstorting na die myners begin tonnel het. Mario, Riaan Viviers, Wynand Botes en Johan Badenhorst het 24 uur per dag in 12-uur-skofte die boor beman.

Om deel van so ’n suksesvolle reddingspoging te wees is ’n droom wat Mario al koester sedert hy die 1998-fliek Armageddon gesien het. Daarin het heldhaftige redders gate in asteroïdes geboor wat op pad is aarde toe, om hulle op te blaas.

‘‘Ek het altyd vir my vrou gesê ek sou graag ook eendag mense so wil red.’’

Nou is sy droom bewaarheid en hy was deel van een van die uniekste en opwindendste reddingsaksies in menseheugenis. Dié ervaring het hom laat besef hoe belangrik familie is.

‘‘Dit kan enige tyd met my ook gebeur – om van my familie geskei te word. Daarom is dit so belangrik om nie kwaad te bly vir mekaar nie. Jy weet nie wanneer en of jy jou geliefdes weer gaan sien nie. Praat, behou kontak; wees lief vir mekaar.’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 28 Oktober 2010