Durban – ’n Suid-Afrikaanse man wat kaartjies vir die Wêreldbekerrugby-eindstryd ter waarde van R25 000 aan ’n egpaar van Nieu-Seeland weggegee het, sê hy het geweet hulle sal dit gate uit geniet.

[caption id="attachment_110985" align="alignnone" width="600"]Brett saam sy nuwe vriende van Nieu-Seeland in Londen. Brett saam sy nuwe vriende van Nieu-Seeland in Londen. Foto: News24[/caption]

Die pasgetroude Kiwi’s wat in Brittanje wittebrood hou, kon nie sy vrygewigheid glo nie, het hy in ’n onderhoud aan News24 gesê.

Terwyl hy die Springbokke se nederlaag in ’n kroeg in London betreur het, het Brett Riley, ’n oud-Pietermaritzburger, sy kaartjies vir die eindstryd weggegee sonder om iets in ruil te verwag.

Sy groothartige gebaar het hom twee nuwe vriende besorg en Brett het eksklusief aan News24 gesê hy wou niks meer as dit gehad het nie.

Die verhaal van sy vrygewigheid is Maandag die eerste keer in ’n koerant in Nieu-Seeland gepubliseer en News24 het hom opgespoor nadat die All Blacks Australië in ’n epiese kragmeting geklop het. “Ek het kaartjies vir die eindstryd gehad en nadat ek die halfeindstryde en ons teleurstellende nederlaag gekyk het, het ek saam met al my pelle in die kroeg gestaan. Ek het die paartjie agter my hoor vra of iemand kaartjies vir die eindstryd wil verkoop en ek het gesê ek het twee, maar ek wil dit nie verkoop nie,” het hy gesê.

Sy groothartige gebaar het hom twee nuwe vriende besorg

Brett het met die paartjie ’n gesprek aangeknoop en uitgevind Graham Paniora en Moe Lewin is weke tevore getroud.

“Hulle het vir my gesê hulle is op hul wittebrood en ek het gesê hulle kan my kaartjies kry. Hy (Graham) het aangebied om my daarvoor te betaal, maar ek wou niks gehad het nie. Vir hulle was dit iets groots en ek het geweet hoe uitsonderlik dit sou wees . . . Ek het vir hulle die kaartjies gegee.”

‘Dit het vir hulle oneindig baie beteken’

Brett en die twee het kontakbesonderhede uitgeruil en gereël om mekaar ’n week later te ontmoet sodat Brett vir hulle die kosbare kaartjies kon gee.

“Ek het hom die Vrydagaand ontmoet om die kaartjies te oorhanding en hulle was oorstelp van vreugde. Dit het vir hulle oneindig baie beteken om dalk die beste Wêreldbekereindstryd in die geskiedenis te sien. Dit was dalk effens buite hul bereik om £600 elk vir ’n kaartjie te betaal.”

Brett sê as die Springbokke die eindstryd gehaal het, sou hy huiweriger gewees het om die kaartjies weg te gee.

“As Suid-Afrika die eindstryd gehaal het, sou ek waarskynlik gegaan het en ek dink omdat hulle Kiwi’s is, weet ek dit sou vir hulle net soveel beteken het as wat dit vir my sou beteken het,” het hy bygevoeg.

Brett woon al 14 jaar in Brittanje.

Bron: News24