In ’n telefoononderhoud met die dagblad het Hannelie Groenewald gesê sy sou verkies het om saam met haar man en twee tienerkinders te sterf, “maar duidelik het God ander planne vir my”.
'Ek het vrede in my hart.'

“Ek het vrede in my hart. Ek weet waar my man en kinders is,” het sy gesê.

Sy het gesê mense van die hele wêreld oor dra haar in hul gebede op.

“Ek is oukei.”

Sy bly tans by vriende en hoop om binne sowat ’n week terug in Suid-Afrika te wees.

“Dan moet ons begrafnis hou. My lewe het om my man en kinders gedraai en nou is hulle weg. Bedags wanneer ek besig is, is dit oukei, maar saans wanneer ek besef ek is alleen is dit moeilik.”

Haar man, Werner Groenewald en kinders, Rode (15) en Jean-Pierre (17), is Saterdag by hul huis deur die Taliban doodgeskiet.

Hulle het in Kaboel gewerk saam met Partnership in Academics and Development (PAD).

Hannelie was by die kliniek in Kaboel waar sy gewerk het toe die aanval gebeur.

Die department van internasionale betrekkinge probeer ’n noodvisum vir Hannelie help kry sodat sy na Suid-Afrika kan terugkeer.

“Die departement van binnelandse sake reik ’n noodvisum uit, maar ons fasiliteer die proses,” het die woordvoerder Nelson Kgwete gesê.