Tania Clarence (43), wat aan depressie ly en haar drie jong kinders in hul slaap versmoor het voor sy haar lewe probeer neem het, is Dinsdag ’n hospitaalbevel deur die Old Bailey opgelê, het die Britse Persvereniging berig.

[caption id="attachment_88287" align="alignnone" width="600"]Foto: www.greatstock.co.za Foto: www.greatstock.co.za[/caption]

Dit beteken sy gaan in die hospitaal behandel word, pleks van tronkstraf uitdien.

Regt. Sweeney het gesê sy was “oorweldig”.

Tania het skuldig gepleit op manslag op grond van verminderde verantwoordelikheid nadat sy haar vierjarige, Olivia, en die driejarige tweeling, Ben en Max, in April tuis in New Malden, Londen, doodgemaak het.

Die kinders, wat aan tipe 2-SMA gely het, is in hul beddens ontdek met hul speelgoed om hulle gepak, asof hulle in staatsie lê.

Tania se man het hul agtjarige dogter (wat nie gestremd is nie) kort voor die voorval Suid-Afrika toe gebring, wat haar alleen met die ander kinders gelaat het. Die oppasser het ook ’n dag se verlof gekry.

Tania het verlede week onbeheerbaar in die beskuldigdebank gehuil toe die staat die besonderhede van die moorde voorlees.

Haar man, Gary, ’n beleggingsbankier, het sy vrou deurentyd ondersteun en het ook ooglopend ontsteld gelyk.

Al drie kinders het aan die toestand tipe 2-SMA gely, wat die spiere verswak, en sou die Clarence-egpaar voor die tweeling se geboorte daarvan geweet het, sou hulle die swangerskappe beëindig het.

Die aanklaer, Zoe Johnson, QC, het aan die hof gesê: “Sy het eers die slapende seuns met ’n doek gesmoor sodat hulle haar nie sou ruik nie.”

Die ma van vier het ’n reeks briefies gelos, onder meer een aan die kinders se oppasser en aan haar man.

Die hof het Dinsdag gehoor Tania het herhaaldelik met dokters gebots oor die kinders se mediese behandeling en hulle is telkemale in die hospitaal opgeneem en ontslaan.

Tania het gemeen lewensgehalte is belangriker as lewensduur, en sy het palliatiewe sorg bo indringender behandeling verkies.