Kim Crous (38) het glo nie in April vanjaar gestop vir ’n 300m lange tou voertuie wat by padwerke by die Hawke's Bay Expressway gewag het nie en met haar Mazda binne-in ’n viertrekvoertuig vasgery. Die impak het die twee voertuie 25 tot 30m vorentoe gesleep. Haar agtjarige seun James het nie die botsing oorleef nie.

Kim word nou aangekla van roekelose bestuur na haar seun se dood en waarin James se jonger suster, Emma, en ’n vrou in die ander voertuig beseer is. Die saak is tot 2 November uitgestel.

Die gesin was verpletter na James se dood. “Liewe Jamsie, ons sal altyd jou pragtige glimlag, groot drukkies en sagte hart onthou”, het sy gebroke ouers dae na sy dood in ’n verklaring gesê.

“Ons weet jy is veilig in die hemel. Ons is lief vir jou Balla. Liefde ma, pa en Emma.” "Balla" was James se noemnaam.

Die gesin se pastoor, Derik Kotze, het ook vroeër vanjaar vertel hoe vriendelik die sokkerliewende James was en hoe hy altyd gewillig was om te help. Die gesin is sedert hy in 2014 die Basics 4 Life kerk gestig het, deel van sy gemeente.

Volgens Derik het die gesin nege jaar gelede van Suid-Afrika af Nieu-Seeland toe emigreer. Hulle het eers in Whakatane gewoon, maar het ’n paar jaar gelede na die Hawke’s Bay-streek verhuis.

Vriende van die gesin het na die ongeluk ’n blad op die fondsinsamelingswerbwerf GoFundMe gestig om geld vir die gesin in te samel.

Na die ongeluk het ’n hele aantal plaaslike inwoners hul kommer uitgespreek omdat daar so min waarskuwingstekens in die area is om motoriste te waarsku van die tydelike 30km/h sone.

Bronne: m.nzherald.co.nz, stuff.co.nz