Volgens die webtuiste Parent24 se opname verkies net meer as ’n derde van die kinders dat die superheld die land bestuur.

Peter Pan se maatjie Tinker Bell beklee die tweede plek op die lys met net minder as ’n derde van die stemme en SpongeBob SquarePants het amper ’n vyfde van die stemme gekry.

Werklike mense het die laer plekke op die lys beklee; wyle oudpres. Nelson Mandela het net minder as ’n tiende van die stemme gekry, en die popsanger Justin Bieber ’n twintigste.

Pres. Zuma en Lady Gaga het geen stemme gekry nie.

Parent24 het in ’n verklaring gesê die opname se uitslae is ’n weerspieëling van die siening van sowat 2 700 ouers en hul kinders. Die kinders was tussen een en nege jaar oud. Die ouers het die opname aanlyn namens die kinders voltooi.

“Die uitslae van die opname was vir ons interessant,” het Parent24 se redakteur, Scott Dunlop, gesê.

“Die uiteenlopende antwoorde het ons ’n kykie gegee na die lewe van Suid-Afrikaanse ouers en het ’n paar interessante, snaakse en eienaardige insigte onthul.”

Die uitslae is op die webtuiste gepubliseer in die vorm van grafieke met strokiesprente van Russiese poppe en ’n rubbereendjie.

Die opname het bevind meer as ’n tiende van kinders vloek, en net minder as ’n derde gebruik die woord f**.

Meer as ’n derde van ouers glo om met die kind te redeneer is die beste manier om hulle te dissiplineer, terwyl amper ’n derde ’n “hou op die boud” verkies.

Die opvoedkundige sielkundige het in ’n verklaring gesê die laaste syfer is ontstellend.

“Dit is aanloklik om te dink ’n hou op die boud ruim ongehoorsaamheid of swak gedrag by ’n kind uit die weg. Maar daar is al in talle studies bewys fisieke straf verhoog die risiko vir breë en blywende negatiewe ontwikkelingsuitkomste,” het sy gesê.

“Om ’n kind te slaan stel ’n swak voorbeeld van hoe om sterk emosies te hanteer. Dit kan kinders dalk ook aanmoedig om te jok en hul gevoelens te versteek sodat hulle ’n pak kan vermy; dit kan tot ’n wrokkige en kwaad kind lei.”

Broccoli het koning gekraai as die mees gehate groentesoort met meer as ’n derde van die stemme. En amper twee derdes van kinders eet tot drie keer per week kitskos.

“Wat groente betref speel aanbieding en verskeidenheid ’n groot rol. Hoe groter die verskeidenheid voedsame keuses ’n kind het, hoe groter die kans dat die kind reg sal kies,” het die voedingswaarde-terapeut en gesondheidsafrigter Cara van Heyningen gesê.

“Dit is ’n groot bekommernis dat kinders so gereeld wegneemetes eet; dit is al bewys meer as een kitskos-ete per week is ’n groot bydraende faktor tot vetsugtigheid by kinders.”

Volgens die opname het amper ’n kwart van kinders hul eie selfoon, terwyl driekwart takies in die huis verrig.

Rakende kinders se toekoms het meer as twee derdes van die ouers gesê hulle wil hê hul kind moet ’n dokter word, en net minder as ’n derde wou hê hul kind moet ’n ingenieur word.

Amper niemand het ’n loopbaan in die politiek vir hul kind gekies nie.

Bron: Sapa /aa/fg/lp/th