Te veel kitskos en televisie en te min buite speel het veroorsaak dat kinders se gesondheid en welstand in die algemeen afneem, volgens ’n onlangse landwye opname deur Discovery Vitality.

Die studie bou voort op vorige verslae van 2007 en 2010  wat die bevindinge van portuurbeoordeelde navorsing van die afgelope vyf jaar en vergelyk verskillende gebiede om te sien waar Suid-Afrika verbeter het al dan nie.

Die wetenskaplike paneel bestaan uit akademici en kenners van ses universiteite, die Mediese Navorsingsraad van Suid-Afrika, die Instituut vir Sportwetenskap van Suid-Afrika, die Hart-en Beroertestigting van Suid-Afrika en Discovery Vitality.

Wat is die bevindinge?

Terwyl daar in die 2014-verlsag belowende verbeterings is (minder kinders gaan honger slaap, en meer is fisiek aktief by die skool) is dit in die algemeen nie naastenby genoeg om kinders te help om beter te eet en meer te oefen nie.

  • In die algemeen het Suid-Afrika beweeg van ’n C- in 2010 na ’n D-gradering in 2014.
  • Hoogstens die helfte van kinders is aktief genoeg.
  • Meer as die helfte van kinders het nie toegang tot speeltoerusting of ontspanningsgeriewe nie.
  • Kinders bring meer tyd deur voor ’n skerm, klein en groot. Kinders kyk op weeksdae amper drie uur televisie en naweke selfs meer.
  • Volgens die navorsing het minder as 60 persent van Suid-Afrikaners voedselsekerheid.
  •  Armoede en stygende kospryse is ’n struikelblok vir gesonde eetgewoontes.
  • Kitskos en gaskoeldrankinname neem ontstellend baie toe. Meer as twee derdes van adolessente eet minstens drie keer per week kitskos, en as ’n geheel drink Suid-Afrika meer as drie keer die wêreldgemiddelde van sekere gaskoeldranke.
  • Selfs in gesinne met beperkte hulpbronne koop kinders kos by die skool se snoepie of by informele handelaars. Min snoepies bied gesonde keuses.
  • Die getal vetsugtige mense het ook van 2010 toegeneem: 27 persent van meisies en 9 persent van seuns tussen 15 en 17 is oorgewig of vetsugtig.

Vir die eerste keer onthul die verslag hoe Suid-Afrika teen 14 ander lande vaar wanneer dit teen nege gesondheidsaanwysers gemeet word. Suid-Afrika beklee die gesamentlike laaste plek wat betref sittende gedrag, naby die laaste plek wat betref skole se ondersteuning van ’n gesonde leefstyl en in die middel wat betref deelname aan georganiseerde sport, algehele bedrywigheidsvlakke, aktiewe vervoer en gemeenskapsondersteuning. Suid-Afrika beklee ’n hoë plek op die lys wat betref regeringstrategieë om ’n gesonde leefstyl by kinders te bevorder. Dit dui op ’n gaping tussen beleid en implementering.

“Die inligting in die verslag verwys na kinders tussen ses en 18 jaar en verskaf ’n maatstaf wat deur bewyse gestaaf is en ’n hulpmiddel om gesonde gewoontes te begin bevorder. Ten einde ons kinders se gesondheid te bevorder en beskerm, moet ons weet waar ons is, en hierdie data gee ons daardie belangrike beginpunt. Dit moet in die toekoms ook gesondheidsbeleide en -programme beïnvloed,” sê Vicky Lambert, ’n medenavorser verbonde aan die projek en ’n dosent in menslike biologie, hoof van die afdeling oefeningswetenskap en sportgeneeskunde in die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad.

Nie-oordraagbare siektes veroorsaak meer as ’n derde van sterftes in Suid-Afrika, met ’n noemenswaardige toename in die risiko-faktore vir onaktiwiteit en vetsug. Hierdie neigings is nie net onder volwassenes nie. “Kinders word toenemend geraak deur chroniese leefstylsiektes, dus is dit dringend nodig dat fisieke onaktiwiteit en vetsug onder jongmense ook voorkom moet word,” sê dr. Craig Nossel, die hoof van Vitality Wellness by Discovery, een van die dokument se borge.

Patrone van toenemende vetsugtigheid en onaktiwiteit in die stedelike Suid-Afrikaanse jeug het gelei tot die skokkende voorspelling dat kinders wat in 2000 en later gebore is, vir die eerste keer in dekades, ’n korter lewensverwagting as hul ouers sal hê. Daar word geskat daar is amper 19 miljoen kinders in Suid-Afrika.

“Wat duidelik is van vanjaar se Healthy Active Kids South Africa Report Card is dat ouers nou tot aksie moet oorgaan. Baie ouers in Suid-Afrika blyk uit voeling met hul kinders se dieetpraktyke te wees, insluitend hoe sakgeld bestee word. Daar was ook verbasend lae betrokkenheid in skoolsportgeleenthede omdat ouers sukkel met ’n balans tussen werk en persoonlike lewe,” het Vicky gesê.

Terwyl daar opwindende en belowende projekte in Suid-Afrika is, soos “oop strate”, parkresies, ’n aantal skoolsportaktiwiteite, asook groot beleggings in skoolsportaktiwiteite deur die regering, is daar nog ’n lang pad vorentoe.

Die pad vorentoe

Toe hulle gevra is oor ’n visie vir die volgende verslag in 2016, het die Scientific Advisory Group die volgende voorgestel:

  • Kinders in primêre skool moet liefs jaarliks geweeg en gemeet word tesame met ’n jaarlikse fiksheidsassessering.
  • Onderwysers moet opleiding en ondersteuning kry om fisieke aktiwiteit te bevorder en fisieke opvoeding te onderrig.
  •  Skole se snoepies moet nasionale riglyne kry en skole wat daaraan voldoen, moet erkenning kry.
  • Die regering moet beleidsgewys optree teen die bemarking van ongesonde kosse en versoete drankies aan kinders.
  • Ouers, gemeenskappe en nieregeringsorganisasies moet hulle beywer vir veilige strate en gelyke toegang tot gesonde kos, parke en ontspanningsruimte
  • Inter-sektorale vennootskappe tussen regeringsdepartemente en nieregeringsorganisasies en die privaat sektor om die gapings in implementering te verklein.

Die Scientific Advisory Group van die Healthy Active Kids South Africa Report Card en hul borge, Discovery Vitality en die Instituut vir Sportwetenskap van Suid-Afrika, vra alle Suid-Afrikaners om op elke moontlike manier ’n gesonder toekoms vir ons kinders en jeug te probeer skep.