Die eerste seisoen van die reeks het meer as ’n dekade gelede op ons skerms verskyn, maar dit lyk of hierdie werklikheidsreeks geen einde ken nie.

Gareth Cliff, Unathi Msengana en Randall Abrahams is weer die beoordelaars en die rapper ProVerb is weer die aanbieder. Daar is wel ’n paar veranderinge: Die vertoning sal in Pretoria plaasvind pleks van Johannesburg. Die Staatsteater sal ook ingespan word vir die top 16 se groepvertonings en die Moreleta-teater vir die Idols Spectacular-episodes.

“Dié skuif sal ons nuwe geleenthede bied om Idols na die volgende vlak te neem,” sê M-Net se kommunikasiehoof, Lani Lombard. “Die ouditorium kan byvoorbeeld meer as 6 000 Idols-aanhangers huisves en talle mense wat nie voorheen aan die fantastiese atmosfeer van Idols-optredes blootgestel is nie, kan nou hierdie ongelooflike optredes eerstehands ervaar.”

In die eerste episode ontmoet ons Kaapstad se hoopvolle deelnemers en speel die beoordelaars weer “slegte polisieman, goeie polisieman” soos Unathi probeer om Gareth en Randall te oorreed om meer deelnemers na die volgende ronde deur te stuur.

Die program is van Sondag 28 Julie tot Dinsdag 25 November op M-Net en Mzansi Magic en die laaste aflewering word regstreeks uitgesaai. Aanhangers kan Sondag ná die eerste episode ook inskakel op die Idols Extra-kanaal op DStv (199).