“Gewoonlik kom ’n aardbewing aan met dieselfde geluid as ’n aankomende trein, maar dié een het jou net laat wieg soos wanneer jy in die diepsee op ’n boot is.”

[caption id="attachment_145472" align="alignnone" width="600"]Magda saam met haar man, Johan. Regs wys van die verwoesting van die aardbewing. Magda saam met haar man, Johan. Regs wys van die verwoesting van die aardbewing.[/caption]

So vertel Magda du Buisson (44), ’n Suid-Afrikaner wat die laaste twee jaar in Christchurch woon, van die vreesaanjaende oomblik toe ’n verwoestende aardbewing in die middernagtelike uur Maandagoggend (Sondag 13:02 Suid-Afrikaanse tyd) dié stad getref het.

“Ek het gelê en slaap toe my hond begin blaf,” vertel sy per e-pos aan Huisgenoot skaars ’n dag ná die skudding. “My kaste se deure het oopgeswaai en my kombuislaaie was oop.”

Madga vertel sy en haar man, Johan (53), en twee dogters, Maggie (24) en Simoné (21), het dadelik toe die skudding begin het uit hul huis gehardloop.

“Die bome buite het heen en weer gewieg,” onthou sy. Vir twee lang minute het die aarde so gebewe dat die familie aan mekaar moes vasklou om te keer dat hulle omval.

Lees ook: Twintig skokkende foto’s wys omvang van skade na tweede aardbewing Nieu-Seeland tref

Toe dinge weer kalmer raak het die vierstuks dadelik klere en water in hul motor gelaai – “net ingeval” – en die brandstoftenk gaan volmaak. Volgens Magda het talle gesinne die res van die aand in hul motors geslaap, gereed om te ry sou ’n tsoenami tref.

“Ons het eers na vier uur weer gaan slaap,” vertel Magda. Hulle moes eers familielede terug in Suid-Afrika laat weet hulle is veilig.

“Ons netwerk en landlyn was vir ’n rukkie af, maar toe dit aankom het die foon onophoudelik gelui.”

Teen dagbreek was Christchurch grafstil. “Jy sien en hoor niemand op straat nie.”

“Ons was baie moeg en skoon siek van die skok,” vertel Magda verder.

Johan, ’n teëllêer by Wall & Floor, se werkgewer het hom vroeg Maandagoggend laat weet om nie in te kom werk toe nie. “Hulle wou eers seker maak alles daar is veilig.”

Magda sê gelukkig is hul huis nie in die aardbewing beskadig nie. Sy en Johan het deur die stad gery om te sien of daar enige ander skade is terwyl Maggie en Simoné tuis geslaap het.

“Toe ons so net voor twee uur by die huis kom, staan die kinders weer buite,” onthou Magda. Met bekommerde uitdrukkings wil hul dogters weet of hulle die tweede aardbewing gevoel het.

’n Erge naskok van 6.6 op die Richterskaal het die suidelike eiland Maandag om 13:45 plaaslike tyd getref.

Die familie het vir die res van die dag pal die televisie dopgehou vir nuus uit ander dele van Nieu-Seeland. “Ons het geen skade nie, maar Hanmer Springs en Kaikoura het sleg deurgeloop,” vertel Madga.

Die gewilde toeristedorp Kaikoura is heeltemal van die buitewêreld afgesny ná modderstortings die pad daarheen versper het.

“ ’n Vragmotorbestuurder van Christchurch is tussen twee tonnels daar vasgekeer,” vertel sy. “Hy het sy vragmotor net daar gelos en is gelukkig gered.”

Die Nieu-Seelanders is almal baie skrikkerig vir sulke natuurrampe, meen Magda. Volgens haar lê die herinneringe van 2011 se verwoestende aardbewing waarin 185 mense dood is nog vlak.

“My swaer en sy gesin woon al tien jaar hier. Hulle is al deur twee groot aardbewings. Hy vertel vandag vir ons hierdie aardbewing bring baie slegte herinneringe terug.”

Hul jongste is veral nog gespanne ná Sondag se skudding, vertel Magda. “As sy net ’n skudding voel, gaan sy dadelik buiten toe. Haar sak met klere, paspoort en haar handsak staan gereed by die deur.”

Maandagaand sukkel die familie weer om te slaap, onseker of daar weer ’n aardbewing die gebied gaan tref.

“Ons gaan ’n noodvoorraad met kos, water, ’n flits, noodhulptas, warm klere en komberse opmaak vir wanneer die volgende groot aardbewing kom,” sê sy.

“Dan sal ons gereed wees.”