Suid-Afrika gaan nie buitelanders behandel wat die dodelike Ebola-virus opdoen nie, sê die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS).

“As daar ’n bevestigde diagnose by ’n buitelander is, gaan hulle nie die land binnegelaat word (vir behandeling) nie,” het die NIOS se hoof van openbare gesondheid, toesig en reaksie, Lucille Blumberg, aan verslaggewers in Johannesburg gesê.

“As dit ongediagnoseer is en die persoon weet nie (dat hulle dit onder lede het nie), sal hulle behandel word.”

Die Associated Press berig meer as 700 Wes-Afrikane het tot dusver tydens die huidige Ebola-uitbreking beswyk. Dis die grootste in die geskiedenis en raak meestal voor in Sierra Leone, Guinee en Liberië.

Lucille sê al het die regering ’n standpunt ingeneem oor die behandeling van buitelanders, sal dié wat aangesteek word, gewoonlik nie die geldelike vermoë hê om hierheen te reis vir behandeling nie.

Sy sê daar is geen gevalle van Ebola in die land nie, en die kans dat so ’n pandemie in Suid-Afrika sal uitbreek, is uiters gering, het sy gesê.

Volgens Lucille is dit belangrik dat mense van die virus moet weet en dat die siekes hul status aan dokters bekendmaak. Sy sê die virus word nie maklik oorgedra nie en dié wat na geïnfekteerde gebiede reis, sal nie die virus opdoen nie.

“Dit verg regstreekse kontak met ’n geïnfekteerde individu. Jy kan dit nie uit die lug kry nie,” het sy gesê.