Die nuwe Afrikaanse dramaprent Noem My Skollie het oor die laaste paar weke groot opslae gemaak en is al deur meer as 32 000 mense gesien.

Nou het die Suid-Afrikaanse Nasionale Film en Video Stigting besluit om dié die hoogs aangeskrewe prent in te skryf as SA se amptelike inskrywing by volgende jaar se Oscars!

"Ons is trots dat ná 'n uitmergelende beoordeling is Noem My Skolie genomineer as die amptelike keuse vir die 89ste Academy Awards-prysaand," het die stigting se uitvoerende hoof, Zama Mkosi, gesê. Die fliek word ingeskryf in die kategorie van beste fliek in 'n vreemde taal.

Die kompetisie om 'n fliek te nomineer was vanjaar besonder straf. Maar, meen die stigting, die uitmuntende werk van Noem My Skollie se regisseur, Daryne Joshua, sowel as die fliek se uitstekende rolverdeling, maak dit die ideale kandidaat om vir die Oscars in te skryf.

"Wat hierdie prestasie des te meer spesiaal maak, is die feit dat hierdie roerende film die regisseur se eerste fliek is," vertel Jan du Plessis van M-Net. Noem My Skollie is in samewerking met M-Net en kykNET-films gemaak. "Die storielyn is ook gegrond op die ware lewensverhaal van die draaiboekskrywer. Dis 'n fliek wat die wêreld moet sien."

Skollie vertel die storie van 'n jong Kaapse man wat in die 1960's in die tronk beland. Om te keer dat hy by die twyfelagtige wêreld van bendes betrokke raak, gebruik hy sy vermoë om stories te vertel om uit die moeilikheid te bly.

Die storie is gegrond op die lewe van die draaiboekskrywer John W. Fredericks (70).

"Die verbasende hoeveelheid liefde wat Skollie by gehore landwyd ontvang, verras ons steeds," sê Daryne. "Ons is oorweldig deur die eer om ons land te verteenwoordig."

Dis egter nog nie 'n uitgemaakte saak dat Skollie een van die vyf genomineerde prente by volgende jaar se prysaand gaan wees nie. Lande wêreldwyd stuur in hierdie tyd hul nominasies in waarna lede van die Academy of Motion Picture Arts and Sciences na al die films kyk en 'n kortlys van vyf saamstel.

Ons hou vir julle duimvas, Skollie!