Die Suid-Afrikaanse film, Skoonheid, is gekies om vertoon te word in die Un Certain Regard-kategorie van die 64ste Cannes-filmfees wat Woensdag in Frankryk afskop.

Skoonheid is die vyfde Suid-Afrikaanse film ooit en die eerste Afrikaanse film nog wat by die fees vertoon sal word.

Huisgenoot het met die regisseur, Oliver Hermanus, ‘n Kapenaar, gesels.

Die filmfees begin Woensdag amptelik. Is jy reeds in Cannes? 

Ek sal eers die naweek in Cannes aankom en ‘n week daar bly. Die film sal eers volgende Dinsdag op die De la Croisette-promenade bekendgestel word.

Wat was jy besig om te doen toe jy die nuus ontvang het dat Skoonheid by die Cannes-filmfees vertoon sal word?

Ek was juis in Parys. Ek was by die kantore van die vervaardiger, Didier Costet, toe die foon gelui het.

Hy het my in sy kantoor ingeroep en gesê daar is iemand op die foon wat met my wil praat. Dit was Christian Jeune van Cannes en hy was baie opgewonde oor die feit dat Skoonheid vir Cannes gekies is.

Dit het twee dae geneem vir alles om mooi in te sink. Dit voel eintlik nog steeds soos ‘n droom.

Wat beteken dit vir jou dat Skoonheid by Cannes vertoon word?

Dit is ‘n baie groot eer. Ek wou regtig gehad het dat Skoonheid by die Cannes-filmfees bekendgestel moes word. Cannes het altyd vir my soos ‘n onbereikbare droom gelyk. Dit is regtig ongelooflik.

Wanneer sal ons Skoonheid in Suid-Afrika kan sien? 

Hopelik teen Augustus.

Waaroor gaan die film? 

Die film handel oor die lewe van Francois. Hy is ‘n getroude pa van twee dogters wat in Bloemfontein woon. Sy lewe is byna perfek, maar dan ontmoet hy onverwags iemand wat sy hele bestaan laat uitrafel.